Verlede maand
Kinders moet ook ’n sê hê oor skole
KINDERS EERSTE: Christina Nomdo, kinderkommissaris in die Wes-Kaap, en Alessio Marcus, voorsitter van die leerderraad van verteenwoordigers in die Wes-Kaap, is dit eens dat kinders deel van die besluitnemingsproses moet wees waar dit hulle direk raak.FOTO’S VERSKAF  ~ 

VIER WEKE!

Dit is hoe lank skoolkinders nog by die huis gaan wees voordat hulle terug skool toe kan gaan.

Die departement van basiese onderwys het Vrydagoggend aangekondig die skoolkalender vir 2021 word weens die corona-virus aangepas.

Christina Nomdo, kinderkommissaris in die Wes-Kaap, het die aankondiging verwelkom en sê in haar gesprekke met kinders beklemtoon hulle die behoefte om deur grootmense beskerm te word by die skool.

“Kinders vra dat skole ten volle voorbereid en toegerus moet wees en dat die gesondheidsmaatreëls gevolg word.”

Nomdo voeg by van die ander versoeke is dat opvoeders ’n voorbeeld stel deur die gesondheidsprotokolle te gehoorsaam.

“Dit sluit in om nie hul masker af te haal wanneer hulle klasgee nie.”

LUISTER: Nomdo het tussen Oktober en Desember 2020 regoor die Wes-Kaap gereis en met kinders uit talle gemeenskappe gesels.

Druk

Reginah Mhaule, adjunkminister van basiese onderwys, het Vrydag namens die minister, Angie Motshekga, verduidelik skoolbestuurspanne sal op 25 Januarie, onderwysers op 1 Februarie en leerders op 15 Februarie na hul skole terugkeer.

Die besluit is ook van toepassing op privaat skole wat reeds heropen het en gesprekke sal nou met hulle plaasvind om hul skoolkalender ook aan te pas.

Mhaule sê: “Die corona-virus het ons lewens op die kop gedraai en besluitneming vir ’n sektor so groot soos basiese onderwys het ’n moeilike oefening geword. Gegewe die druk wat daar die laaste paar weke op die gesondheidsorgstelsel is weens ’n toename in infeksies, is daar ná konsultasie besluit om die heropening van openbare en privaat skole met twee weke uit te stel.”

Intussen sê Nomdo: “Skoolbestuurspanne moet waar afstandonderrig toegepas word, dit so eenvoudig moontlik maak.”

Sy noem die volle koste van afstandonderrig word ook nie altyd oorweeg nie.

Gereël

“Baie kinders woon in huise waar dit nie maklik is om te leer nie. Daar is beknopte spasie of gesins­geweld.

“Nog iets wat die geestesgesondheid van kinders raak, is om nie vriende te sien nie.

“Ouers is ook sommige van die kinders se hoofbron van leerderondersteuning en as die ouers nie by die huis is nie, moet daar gereël word vir iemand om na die kind te kyk.”

Alessio Marcus, voorsitter van die leerderraad van verteenwoordigers in die Wes-Kaap, voeg by: “Ek hoop die regering dink ook in die toekoms aan die belangrikheid van kinderdeelname en om kinders in te sluit by die besluitnemingsproses wat hulle direk raak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters