9 dae gelede
Kids kan nie só leer boer
VERNIEL: Dié skool was veronderstel om groot hoop te bring, maar dit val nou uitmekaar.  ~ Foto Verskaf

DIE Gamtoosvallei is ryk aan landbougewasse.

Juis daarom was die opening van ’n landbouskool in dié woongebied ideaal om die leerders van die area touwys te maak oor boerdery.

Die landbouskool in Patensie het in 2018 geopen, maar dit het baie tekortkominge.

Dit is allesbehalwe ’n landbouskool, want daar is absoluut geen toerusting om die kinders van landbou te leer nie.

Drome

Patensie en die omliggende plase is ’n heiligdom as dit kom by sitrusvrugte en selfs aartappels en ander groente.

Die leerders raak in die omgewing groot en hulle koester groot drome – veral omdat hulle aan die skool verbonde is. Maar die onderwysers by die skool kla hul hande is afgekap.

’n Onderwyser sê dit verskaf hom vreugde om vir die kinders iets te probeer leer, maar hy kla hy kan dit nie na die beste van sy vermoë doen nie.

Die voorsitter van die skoolbeheerraad, Hannes Maarman, sê almal weet van die probleem by die skool.

Hy het bevestig daar is niks implemente en toerusting om die kinders touwys te maak nie.

Maarman wou egter nie verder uitwei nie.

Hy het daarop aangedring om te weet wie Son se bron is voordat hy enige iets verder sê.

Behalwe dat die skool nie voldoen aan die voorwaardes van ’n volwaardige landbouskool nie, is dit boonop in ’n vervalle toestand.

Die geboue is al meer as 40 jaar oud en dis besig om uitmekaar te val.

Die skool is tans toe nadat daar ’n Covid-19-geval daar aangemeld is.

Dit akkommodeer leerders vanaf gr. 8 tot 12.

Toedrag

Loyiso Pulumani, ’n woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van onderwys, sê hy was nie bewus van die situasie by die skool nie.

Pulumani het beloof om by die distriksdirekteur van die gebied uit te vind wat die toedrag van sake is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters