7 maande gelede
Kerkleiers ‘moenie onverantwoordelik wees nie’
kerke
Kerkdiens te VGK Touwsrivier in Oktober 2020. Foto ter illustrasie: Facebook  ~ 

Ten spyte van Covid-19-regulasies wat geloofsbyeenkomste tot 15 Januarie verbied, is daar kerke van verskillende denominasies wat steeds kerk hou.

Pres. Cyril Ramaphosa het op Maandag 28 Desember strenger maatreëls aangekondig om die verspreiding van die corona-virus en die toename in sterftes te beperk.

Een van die regulasies is dat alle binne- en buite-geleenthede vir twee weke verbied word. Dit sluit geloofsbyeenkomste in.

Past. Jimmy Francis van die Bethel Tabernacle Full Gospel Church in Kraaifontein sê: "Dit is nie ’n maklike situasie nie, maar dit is nodig om strenger op te tree.

"Ons kort ook strenger toepassing van die reëls." 

Hy sê kerke wat nie aan die regulasies voldoen nie, maar dit vir ander moeiliker. 

Francis sê: “Teen die vlak dat mense nou aan die virus sterf, wil ons nie graag na ’n vlak 5-lockdown gaan nie. Ek het binne 14 dae twee broers verloor. Dit is nie maklik nie."

Dr. Llewellyn MacMaster, moderator van die Kaapland-sinode van die VGKSA, sê mense wat nie die Covid-19-regulasies gehoorsaam nie, is onverantwoordelik. Dit is dié gedrag wat bydra tot die verspreiding van die virus.

MacMaster voeg by sy kerk verstaan in dié tyd kan daar geen byeenkomste behalwe begrafnisse wees nie. 

“Indien daar kerke is wat nog bymekaarkom, stuur dit nie ’n goeie teken uit van kerkleiers, wat in die stryd teen Covid-19 leiding moet gee, nie. 

“Die prys om te betaal vir dié wat hardnekkig met dienste voortgaan, is hoog.” 

Intussen sê JP Smith, mayco-lid belas met veiligheid en sekuriteit in die Stad Kaapstad, hulle sal die wet toepas as hulle enige klagtes ontvang van individue of instansies wat Covid-19-regulasies oortree.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters