3 maande gelede
Kannaland se smouse loop hulle vas
DOP: Die polisie het drank met ’n swartmarkwaarde van R60 000 gekonfiskeer.  ~ Keith Meyer

MANNE en vroue se monde het behoorlik gekwyl toe hulle verneem van die polisie se drank suksesse in Kannaland.

Verskeie mense is aangekeer vir die oortreding van die Rampbestuurwet.

Terwyl daar lustig pynappel-, aartappel-, en pampoendrank gemaak word, het die cops gereageer op ’n tip-off uit die Vanwyksdorp-gemeenskap.

’n Vrou van hier was onaangenaam verras toe die cops toeslaan en drank ter waarde van bykans R60 000 afneem.

En terwyl ’n ou in die dorp se hoofstraat ook probeer het om verskeie liters bier met sy motor te verwyder, moes hy ook met leë hande vasgekap word.

Boete

Daar is ook vroeër beslag gelê op onwettige entjies – wat al tot R180 ’n pakkie haal.

’n Buitelander met 450 pakkies is gearresteer en moes ’n boete van R2 000 betaal.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê: “ ’n 52-jarige vrou van Vanwyksdorp is met ’n boete van R2 000 vrygelaat nadat sy aangekeer is tydens die inperking met betrekking tot die corona-pandemie.

“Sy het na bewering drank verkoop.

“Daar is toe beslag gelê op soetwyn, bier en sterk drank. Dit was sowat 2 965F ter waarde van R60 000.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters