27 dae gelede
Kabinet: Alle skole bly oop
DAMAGE CONTROL: Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, hardloop nou soos ’n afkop-hoender rond nadat vakbonde geëis het skole moet onmiddellik sluit.  ~ City Press

DIE minister van basiese onderwys, Angie Motsh­ekga, doen nou damage control.

Dít volg nadat die grootste vakbond vir onnies, die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), geëis het dat skole landwyd onmiddellik moet sluit.

Dié eis kom nadat Sadou se nasionale leiers Dinsdag aanlyn vergader het.

Volgens die unie is daar tot dusver meer as ses onnies wat hul lewe weens Covid-19 verloor het.

Afneem

John Maluleke, Sadou-hoofsekretaris, meen geen behoorlike opvoeding kan onder die huidige omstandighede plaasvind nie.

Maluleke hou vol die skole moet sluit en toe bly totdat Covid-ontstekings afneem.

Hy voeg by die vakbond is bekommerd oor beweringe van korrupsie wat spesifiek verband hou met die heropening van skole onder die lockdown.

“Edupreneurs het geen skaamte nie en hou aan om te steel en selfs om fake PPE aan skole te verkoop,” het hy beweer.

“Ons doen ’n beroep op ons structures om ons met meer inligting te empower sodat ons klagte kan aanmeld by die relevante wetstoepassingsagentskappe.

“Dit gaan nie oor wie wen en wie verloor nie, maar oor die ware oorweging dat opvoeding nie onder die huidige omstandighede kan plaasvind nie. Sedert die heropening vir gr. 7 en gr. 12 word skole byna elke dag weens Covid-19-besmetting gesluit.”

Nkosiphendule Ntantala, die president van die National Professional Teachers’ Organisation of South Africa (Naptosa), het ook gister in ’n radio-onderhoud gesê hulle eis dat die skole onmiddellik gesluit word. Dít is weens die beweerde hoër getal ontstekings onder leerders en onnies sedert die heropening van skole.

Motshekga se woordvoerder, Elijah Mhlanga, bevestig Motshekga is van gister tot môre besig met vergaderings met alle rolspelers aangaande die pad vorentoe vir skole.

Volgens hom is die doel van die meetings om opinies te kry oor hoe om te deal met die peak van Covid-19-infeksies.

Mhlanga voeg by: “Sodra al die vergaderings afgehandel is, sal ’n aankondiging gedoen word.

“Ons wil dit graag herhaal dat die besluit om die skole te heropen deur die kabinet geneem is.

“Dit was ná uitgebreide konsultasies wat kookpunt bereik het met die gefaseerde toenadering van die sektor.

“Skole bly oop tot verdere kennisgewing.

“Ons wil graag verduidelik dat die minister nie ’n beplande vergadering spesifiek met Sadou gehad het nie.

Organisasies

Sy het egter reëlings getref om te vergader met alle sleutelrolspelers, onder meer beheerliggame se organisasies en die burgerlike samelewing in die basiese onderwys.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters