2 maande gelede
In Northerns is dit 'business as usual'
Vra mooi: Hierdie Khoi chiefs hoop hulle gebede vir ’n corona cure sal verhoor word.  ~ Theo Jeptha

VRYDAGOGGEND vroeg – met die eerste dag van die nasionale lockdown – was die Baaise Nor­therns ’n spookdorp, maar minute later was dit weer business as usual.

Edmund van Vuuren, skadu­minister van maatskaplike ontwikkeling in die Oos-Kaap, het Vrydag aan Son op Sondag gesê hy het daardie oggend deur Standfordweg gery.

Standfordweg is die hoofroete deur die Baaise Northerns.

Volgens Van Vuuren het hy stilgehou by die verkeerslig by Gelvan­dale Senior Sekondêr en heelwat mense daar gesien rondbeweeg.

“Dis glad nie stil nie. Hulle is nie binnenshuis nie.”

Volgens hom het hy mense sommer op die spot bygestaan met hand sanitiser. Hy sê baie van die mense weet nie van die lockdown nie.

Volgens hom moet mense in die Northerns meer bewus gemaak word, want hulle weet nie wat die implikasies is nie.

Van Vuuren sê hopelik sal daar iemand uitkom om dít onder hulle aandag te bring.

Hy sê dis egter vir hom ’n plesier om mense te kan help.

’n Shopper wat Son op Sondag op straat raakgeloop het, sê: “Ons is bang vir dit, want dis iets wat vir die eerste keer in ons leeftyd gebeur.”

Die shopper sê sodra die weermag­patrollies in werking tree, gaan die mense besef dis ’n ernstige ding.

Randall George, ’n inwoner, sê hy is ’n bietjie bang, maar hy het net uit die huis gekom om ’n walk te vat.

Jonathan Smit, nóg ’n inwoner, sê hy’s ’n bietjie bang vir die virus, maar hy glo “God sal dit kan wen.

“Daai is nou my Vader wat ek nie kan afstaan nie.”

Volgens hom sal God altyd daar wees vir hom – in gees en natuur.

Nog ’n inwoner wat Son op Sondag raakgeloop het, sê mense moet geloof hê in die Here. Sy sê as jy bid, sal die Here jou verhoor. “As jy geloof het, is niks onmoontlik by God nie.”

Shané Burgess sê dis belangrik om ’n masker te dra om safe te wees en ander mense safe te hou.

Siekte

Banileen Pereira, ’n inwoner van Gelvandale, sê ook dis baie belangrik om ’n masker te dra, want mense moet hulle beskerm teen die virus en dit ernstig opneem.

Sy sê sy dink nie mense in die Baai neem dit ernstig op nie, want sy sien daar is van hulle wat nie maskers dra nie

René Hammond, nóg ’n inwoner, sê: “As jy bang is vir ’n siekte, dan gaan jy hom kry. As jy nie bang is nie, gaan jy hom nie kry nie.”

Orals waar Son op Sondag in die Baai rondgery het, was wetstoepassingsbeamptes in sig, maar daar was niks te sien van soldate soos in ander dele van die land nie.

  • Intussen het lede van die plaas­like Khoi- en San-gemeenskap Woensdagaand die koue en volgehoue rukwinde getrotseer toe hulle hulle gewend het tot die berge om vir God redding en ’n uitkoms te vra te midde van die wêreldwye Covid-19-pandemie.

Die Khoi en San wat in die berge naby Uitbreiding 24 se reservoir gaan oornag het, was paramount chief Gert Steenkamp, asook die chiefs John Sayster, Jan Bekkies, Kora Henning en Christian Martin.

Martin, ’n Khoi-en-San-aktivis, sê die Khoi- en San-gemeenskap is bewus van hulle vermoë om enige siekte te beveg. Hy sê hulle besef ook gekompliseerde pandemies benodig meer as net kruie en bossies.

Volgens hom beroep hulle hulle in so ’n geval op ’n Hoër Gesag. Hy sê hulle sal ook gehoor gee aan pres. Cyril Ramaphosa se versoek.

Lofliedere

Hy sê die plan om die berge in te vaar, was ’n Khoi- en San-inisiatief in samewerking met Habata Boerdery. “Ons is onse broeders se oppassers onder dié omstandighede.”

Volgens Martin was hulle op die berg sedert Woensdag 22:00 tot Donderdagoggend 04:30.

Hy sê op die berg het hulle gebid en lofliedere gesing.

Martin verduidelik ná die 21 dae gaan hulle terug na die berg om dankie te sê vir die Here.

“Hy sê mos: ‘Roep my aan in die dag van benoudheid. Ek sal jou uithelp, maar dan moet jy my eer.’ ”

Volgens hom gaan hulle ná afloop van die nasionale lockdown terug na die berg toe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters