15 dae gelede
Hulp vir armstes
VOED DIE BEHOEFTIGES: Angus McKenzie, wyksraadslid van Bonteheuwel, gaan kospakkies aan die mees behoeftige leerders van ál agt laerskole in die Bontas uitdeel.  ~ Foto Verskaf

BEHOEFTIGE leerders van Bonteheuwel en hul gesinne gaan baat vind by die befondsing van die stad Kaapstad om hul honger te stil.

Die plaaslike raadslid, Angus­ McKenzie, het R82 120 van sy begroting beskikbaar gestel vir 500 behoeftige leerders en hul gesinne.

Volgens McKenzie het hy die spaargeld wat oor was in sy wyksbegroting vir die projek gebruik.

Die hoofde en onnies van die agt skole in Bonteheuwel moet 62 behoeftige leerders by elke skool identifiseer aan wie die kospakkies geskenk gaan word.

Die agt primêre skole is: EA Janeri, Ceder, Bergsig, Boundary, Mimosa, Arcadia, Nerina en Bramble Way.

Die 500 kospakkies sal onder andere bestaan uit teesakkies, rys, visolie, koffie, konfyt, spaghetti, grondboontjiebotter, gemengde groente en soya mince.

McKenzie vertel: “Die skoolhoofde en onderwysers is die beste mense om die behoeftige kinders in hul skole te identifiseer.

“Elke skoolhoof sal volgende week by die skool die kospakkies aan die leerders se families oorhandig.”

Volgens McKenzie is hy ook besig om geld in te samel vir sopkombuise wat in sy wyke is.

Dít kom ná ’n uitspraak dié week in die hooggeregshof dat geen mense gekeer kan word om kos vir behoeftiges uit te deel nie.

Verwelkom

Die minister van maatskaplike ontwikkeling het vroeër ’n hofbevel ingedien om sopkombuise te stop omdat dit kwansuis die lockdown-regulasies verbreek.

McKenzie het gesê hy verwelkom die uitspraak en bygevoeg hy sal voortgaan met sy 50 sopkombuise in Bonteheuwel wat kos verskaf aan die armes.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters