15 dae gelede
Honger kan nie wen nie
etes vir almal: Desiree Ellis se organisasie help ook om kos uit te deel.Foto: peter abrahams  ~ 

KAAPSTAD se burgemeester, Dan Plato, het die beslissing van die Wes-Kaapse hooggeregshof verwelkom dat sopkombuise kan voortgaan om mense kos te gee.

“Omdat daar ’n lockdown is weens die corona-virus, sukkel inwoners om kos te kry.

“Al is ons op vlak 3, het ons steeds hulp nodig.

“Die donasies wat ontvang word, word gebruik om organisasies te help om kos aan mense te gee.”

Sedert die lockdown drie maande gelede ingestel is, het Plato meer as 80 sopkombuise in die Stad ondersteun en toerusting en kosbestanddele aan hulle verskaf.

Die Desiree Ellis Foundation is in vennootskap met die Alcardo Andrews Foundation. Saam verskaf hulle elke dag tussen 400 en 600 gekookte maaltye.

Pakke kos wat geskenk word deur ’n boetiekhotel in Kaapstad, word in Hanover Park gebruik.

Volgens Plato kry die Stad Kaapstad ook groente van ’n vennoot af.

Volgens Desiree Ellis is hul organisasie dankbaar vir die skenking van die Stad omdat hulle gebruik maak van hul eie hulpbronne soos elektrisiteit en bestanddele.

“Die toerusting wat ons kry, sal ons help om meer te kan doen om leë magies te vul.”

Die organisasie het die burgemeester se kantoor gevra vir goed soos ’n drieplaat-gasstoof, gassilinders, twee groot potte en droë bestanddele.

Hoewel die nasionale regering en Sassa verantwoordelik is om sy burgers kos te gee, het die Stad Kaapstad ’n groot gaping gevul deur aan honderde in­woners in verskeie gemeenskappe kos te verskaf.

Dié organisasies in Mitchells Plain is ook gehelp: Die Tafelsig Community Uplifting Forum, die Community Outreach in Morgan Village, die Women to Youth Out­reach Project in Eastridge en die Amazing Ants in Rocklands

Nog hulp sal oor die volgende paar weke aangebied word.

“Die pad na ekonomiese herstel sal stadig wees, maar bestendig.

“Ons moet steeds by die regulasies hou en maskers dra, en ons hande was en sosiale distan­siëring handhaaf,” het Plato gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters