16 dae gelede
Hof sê ja vir hulp
KOOK 'N KUNS: Jasmin Jacobs sr. skep sop in vir die behoeftige gemeenskap van Sunbird Park in Kuilsrivier.  ~ Foto Verskaf

DIE Wes-Kaapse hooggeregshof het dié week gelas die departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO) en polisie mag nie die verspreiding van kos en die vrye bystand van hongeres tydens die inperking verhinder nie.

Die nieregeringsorganisasie (NRO) 1 000 Women Trust en die Demokratiese Alliansie (DA) het die hooggeregshof genader.

Hulle het ’n saak gemaak teen Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, en Bheki Cele, minister van polisie. Die saak het Maandag voor regter Owen Rogers gedien.

Laas maand het die 1 000 Women Trust en die DA die hooggeregshof genader nadat die DMO ’n voorgestelde verbod aangekondig het op sopkombuise.

Die DMO het ook konsepmaatreëls uitgereik wat gemaak het dat NRO’s nie kos mag versprei het nie.

’n Beduidende getal organisasies wat voedseltekorte probeer teenwerk het, is deur die polisie of deur woordvoerders van die DMO aangesê om op te hou kos uitdeel.

Die hooggeregshof het op 22 Mei reeds gelas die regering kan nie die verspreiding van kos gedurende die nasionale inperking verhinder nie.

Die hof het beslis ten gunste van die vrye bystand van honger mense vir minstens nog ’n paar weke – totdat die saak weer vandeesmaand aangehoor is.

Rogers het gister die uitspraak herhaal wat op 22 Mei gegee is. Hy het ook gelas die minister van maatskaplike ontwikkeling moet die aansoekers se regskoste én die koste betaal wat oorgestaan het van 22 Mei af.

In ’n petisie wat op 15 Mei aan die internasionale entiteit UN Women gerig is, het die 1 000 Women Trust geëis dat die DMO sy hande van die sopkombuise in die gemeenskap afhou en ophou om te beheer, bestuur of bepaal wie ’n sopkombuis mag bedryf.

Tina Thiart, een van die stigterslede van die 1 000 Women Trust, het gesê: “Ons is in die wolke oor die beslissing in die hofsaak.

Gemobiliseer

“Hierdie beslissing bevestig weereens die reg tot voedsel en die reg om ons voedsel met ander te deel.”

Thiart het ook ál die sopkombuise en gemeenskapsgroepe bedank wat hulpbronne gemobiliseer het en wat duisende maaltye aan gemeenskappe verskaf.

“My beroep op alle gemeenskappe in Suid-Afrika is om die NRO’s, hul sopkombuise en die 1 000 Women Trust by te staan.”

Sy vra: “Besoek asseblief 1000women.co.za.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters