Verlede maand
Haar passie is om te help
Alvina Abrahams  ~ Jonathan Lestrade

ELKE bydrae maak ’n verskil.

Só sê Alvina Abrahams van die Farm Workers Association.

Abrahams ondersteun sedert die begin van die lockdown verskeie voedingskemas in haar gemeenskap.

“Dis my passie om mense te help. Dis hoe ek grootgemaak is, om die volgende persoon te help waar ek kan,” verduidelik sy.

Abrahams weet dis onmoontlik om almal wat sukkel te help, maar sy probeer haar bes om sover moontlik kinders iets te ete te gee.

“Ek het besluit om aan te sluit by voedingskemas wat in die gemeenskap gestig is omdat die eienaars van hierdie voedingskemas presies weet wie hulp benodig,” sê sy.

Abrahams sê dis vir haar hartseer om te sien dat daar so baie mense is wat kos benodig.

“My trane rol as ek daaroor dink omdat almal honger is. Dit kan gesien word aan hoe lank die rye is.”

Die ondersteuning wat sy kry van Christian Ambadiang, ’n Southern Kings-speler, maak haar baie bly.

“Hy het my op Facebook genader en gevra hoe hy betrokke kan raak.

“Sy ondersteuning met wat ek doen, beteken só baie vir my en die gemeenskap.

“Ons kan nou meer inwoners voed en dit laat ’n mens goed voel,” sê sy.

Ambadiang sê hy weet presies wat dit is om nie kos in die huis te hê nie.

“My ma kon ook nie altyd vir my alles gee wat ek nodig gehad het nie, maar sy het altyd gesê dat sý eerder met ’n leë maag sal gaan slaap as dat ék moet.

Dankbaar

“Dit het my altyd bygebly omdat sy so ’n sacri­fice gemaak het om vir my te sorg. Dis waarom ek teruggee, sodat die kindertjies wat iets kry om te eet se ouers nie met leë mae hoef te gaan slaap nie,” sê hy.

Abrahams sê sy is dankbaar vir ál die ondersteuning en donasies wat sy ontvang het. Sy sê die Stormer Salmaan Moerat ondersteun haar ook.

“Dis ongelooflik wat ons kan doen wanneer ons saamwerk. Ek doen ’n beroep op die publiek om te help,” vra sy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters