Verlede maand
Groot talent die tyd in unlock
talentvol: Van Eden hou een van die kitare vas wat hy jare gelede gebou het.  ~ 

DIE lockdown het ’n manier om talente van toeka af te stof.

Vra maar ’n skaam en soft-spoken maar uiters talentvolle Michael van Eden van Portlands.

Van Eden (70) is ’n man met vele talente.

Wat sy skildery nog meer indrukwekkend maak, is die feit dat dié linkshandige met die regterhand skilder.

Sy voorkamer se mure is bedek met kunswerke wat hy oor die jare geskilder het.

Daar is alles van abstrakte werke tot portraits en sketse.

Van Eden neem Son na ’n vertrek heel agter in sy huis. Dít is waar die magic plaasvind.

“My passie vir kuns en enige iets kreatiefs kom al van jongs af,” vertel hy.

“As dit te duur is of ek kan nie iets kry wat ek soek nie, maak ek dit self.”

Dit is presies wat Van Eden in die 1970’s gedoen het toe hy nog lid was van ’n rock band, Buttercups.

“Ek het my eie guitars gemaak omdat ek links is en daardie tyd was daar nie eintlik guitars vir linkshandige mense nie. Toe maak ek my eie.”

Van Eden loop nie juis te koop met sy talente nie, maar hy is baie trots op sy handewerk en koester sy kitare.

Beeldhouer

“Ek het dit met tweede-handse kitaardele opgebou en ek is baie trots op wat ek bereik het.”

Van Eden kan nie net skilder en kitaar speel nie, hy is ook ’n beeldhouer.

Die meeste van sy kunswerke gee hy eenvoudig weg, vertel hy.

“Ek hou nie van art critics nie. Ek het dit geskep soos ek voel. As iemand daarvan hou, gee ek dit vir hulle,” verduidelik hy.

Van Eden sê sedert die lockdown begin het, het hy weer begin met sy kuns.

“Dit is iets wat my hande asook my mind besig hou.

“Dis ’n manier om myself uit te druk.

“Niks is verkeerd nie en niks is perfek nie.”

Van Eden sê hy is nog nie seker of hy ’n uitstalling sal hou nie.

Hy het wel raad om te deel: “Moet nooit jou hobbies of passie laat gaan nie; dit is wat jou uniek maak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters