17 dae gelede
Graad-12’s trek aan kortste end
hoopvol: Tarryn Mick­etts sê sy gaan haar tyd gebruik om ’n sukses te maak. Foto’s: MELINDA STUURMAN  ~ 

MET die uitbreek van die corona-virus wat skole geforseer het om ’n langer vakansie te hê, moet matrikulante nou omtrent kopkrap.

Vir matrieks is daar nie meer baie tyd oor voordat hulle die belangrikste eksamen van hulle skoolloopbaan moet skryf nie.

Hulle vrees dat hulle in dié situasie aan hulle eie genade oorgelaat word.

Son het gesels met twee matrikulante van die Hoërskool Eben Dönges in Kraaifontein wat steeds hoop het dat hulle met vlieënde vaandels deur die jaar gaan kom.

Divina Adonis (17) van Wallacedene sê hoewel die virus ’n negatiewe impak op hulle skooljaar kan hê, glo sy dat God hulle sal deurdra.

Groepe

Adonis sê: “Wanneer ons terug gaan skool toe gaan daar omtrent 26 dae oor wees voordat die Junie-eksamen begin.

“Ons is onder baie druk, maar ons sal deur dit kom.

“Ons het ekstra werk vir toerisme, lewensoriëntering en musiek gekry om intussen te doen.

“Ons het groepe onder mekaar gestig om dinge vir onsself makliker te maak.

“Daar word van ons verwag om al ons leesboeke klaar gelees te hê wanneer die skole oopmaak. Daar sal geen vrae wees nie ons sal alles tuis moet doen.”

Adonis sê dat sy alles opoffer omdat sy die laaste skooljaar nie net vir haarself doen nie, maar ook vir haar eenjarige seuntjie.

Tarryn Micketts, nog ’n matrikulant, sê hulle matrieks moet deurdruk ongeag die omstandighede.

Aktiwiteite

Sy sê: “Ons is onder druk met geen guidance nie.

“Op die oomblik weet ons nie presies wat om te doen nie. Ons het ekstra werk gekry wat ons op ons eie moet doen.”

Sidwell Ewertz, ’n onnie van die Hoërskool Simunye in Delft, het bevestig dat leerders by hulle skool ekstra aktiwiteite gekry het om in hierdie tyd te doen.

Hy sê: “In plaas van tyd mors het ons vir hulle werk gegee om te hersien.

“Werk wat ons vir die volgende kwartaal sou doen, is ook aan die leerders gegee.

“Wanneer hulle volgende kwartaal terugkom, weet hulle wat aangaan.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters