27 dae gelede
Geen makietie vir matriek ’ie
SAD: Brent Samuels (18) van die Tegniese Skool Delft sê hy was opgewonde oor sy afskeid.  ~ Foto Verskaf

AS JY gedink het om net ’n bypassende masker vir jou matriekafskeid-outfit te kry, moet jy maar vir eers daarvan vergeet ...

Matriekafskeide vir 2020 is af, sê Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys. Luidens berigte het Mhlanga Woensdag dié aankondiging gedoen.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement sê egter die kwessie is tussen die skool en matrikulante se ouers.

Gewaarsku

“Matriekafskeide is ’n buitemuurse aktiwiteit. Ons het nie ’n amptelike beleid daaroor nie,” sê Kerry Mauch­line, woordvoerder van die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, by navraag.

Mauchline sê die WKOD het wel die skole en ouers gewaarsku oor die risiko’s van ’n gathering soos ’n matriekafskeid.

“Die regulasies is steeds dat daar minder as 50 mense by ’n byeenkoms moet wees. Daar moet ook social distancing toegepas word en almal moet maskers dra.

“Ondanks al die voorsorgmaatreëls is die risiko steeds daar dat leerders en onderwysers Covid-19 onder lede kan kry. Dit sal lei tot self-isolasie van diegene wat aangesteek is en in noue kontak was met die besmette persoon.

“Dít sal weer ’n impak maak op hul skoolwerk en op die eindeksamen.”

Die matriekklas van 2020 het verskillend gereageer op die nuus.

Marshe Andrews (17), ’n prefek by Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein, is meer teleurgesteld dat groot events soos die Valedictory af is.

“Daar is baie geleenthede wat ons dié jaar moes opgee. Ja, ek en my ma was opgewonde oor die afskeid, want dis die één dag wat ’n mens soos ’n volwassene kan lyk.

“Net die gedagte dat ek nie sal kan terugkyk en sê dit was ’n mooi dag of mooi herinneringe nie, maak my sad.”

Sy sê matrikulante sal nou net hul laaste skooljaar kan onthou as ’n paar maande van akademiese werk en stres met geen sport of events nie.

“Baie van ons het in elk geval net druk om te presteer op ons plate. Daar is nie nog ruimte om oor ’n matriekbal te tob nie.”

Nog ’n matrikulant, Brent Samuels (18) van die Delft Tegniese Skool, sê hy was aan die begin van die jaar opgewonde oor sy matriekafskeid.

“Ek het vir myself gesê dis nou my beurt om mooi te lyk. Toe ek die nuus kry dat dit af is, was ek nogal effens teleurgesteld.”

Shekira Pietersen (19) van Wolseley Sekondêr het nog ’n skets van haar droomrok op haar foon.

“Ek voel ’n klein bietjie sad, maar gelukkig is daar nog niks gemaak nie, al was die beplanning daar. My hele skoolloopbaan droom ek van my afskeid en nou sal dit net ’n droom bly.”

Baie ouers het op Son se Facebook-blad oor die kwessie gepraat.

Een ouer genaamd Sophie sê: “Ons sal steeds een vir my meisiekind hou. Hierdie jaar se matrikulante verdien eremedaljes. Ek sien hoe hard my meisiekind werk om suksesvol te wees.

“My dogter sal een kry, al is dit net ons as gesin wat opdress en na ’n restaurant gaan.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters