17 dae gelede
Geen besoeke of vroeë vrylatings vir bandiete

GEEN bandiete sal voor die einde van hulle straf vrygelaat word weens die corona-virus nie. Dít is volgens die nasionale departement van korrektiewe dienste.

Dié stelling kom nadat sommige lande wat erg deur die corona-virus getref is, party gevangenes voor die einde van hulle termyn vrygelaat het. Dit was om die kanse van verspreiding van die virus te verminder.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede Sondagaand die corona-virus as ’n wêreldwye pandemie verklaar.

As deel van sy maatreëls om verdere verspreiding van die virus te verminder, is saamtrekke van meer as 100 mense ontoelaatbaar.

Vir 30 dae mag inmates ook g’n besoeke kry nie.

Singabakho Nxumalo, ’n woordvoerder van korrektiewe dienste, bevestig dat hulle opdrag gekry het dat alle besoeke gestaak moet word.

Volgens hom is daar maatreëls ingestel om die verspreiding van die virus te verhinder. Alle inmates, beamptes en kontrakteurs word getoets by ingange.

Kommunikasie

Nxumalo sê: “Bewusmakings- en opvoedkundige programme word aan gevangenes en beamptes gebied.

“Kommunikasie met gevangenes, beamptes en die algemene publiek sal opgeskerp word om almal oor die verwikkelinge in te lig.

“Die vroeë vrylating van gevangenes word nie in dié stadium oorweeg nie.”

Die stigter van die Community Aftercare Sanitation Educare (Case), Jerry Arries, sê die besluit kan ’n negatiewe impak hê op die mense wat tans agter tralies is.

Case werk met eks-gevangenes om hulle gereed te kry om weer by die gemeenskappe te herintegreer.

Arries is egter gou om te noem dat hy verstaan waarom die besluit geneem is.

Hy sê: “Dit sal ’n negatiewe impak hê op die ouens se mindset as hulle so lank geen visitors kry nie.

“Maar ’n mens moet verstaan dat dit baie moeilik sal wees om die virus onder beheer te kry daar binne.

“Dis nie soos in die hospitaal waar daar voorbereidings vir sulke gevalle gedoen kan word nie.

“In sommige korrektiewe sentrums is daar 100 ouens in een sel.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters