11 dae gelede
Gebeure by Mlangeni se diens word ondersoek
Mense kom Dinsdag byeen by die huis van wyle Andrew Mlangeni in Soweto.  ~ Twitter

DIE polisie ondersoek 'n klag van oortreding van die Rampbestuurswet nadat daar meer as 50 mense by die struggle hero Andrew Mlangeni se begrafnisdiens opgemerk is.

Verskeie foto's wat van Dinsdag se diens in Soweto in die sosiale media gedeel is, wys dat daar boonop geen social distancing toegepas is nie.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê in 'n verklaring die gebeure buite Mlangeni se huis is onder die aandag van die Joint Operational and Intelligence Structure gebring.

Naidoo sê na afhandeling van die ondersoek, sal die dossier aan die direktoraat van openbare vervolging oorhandig word vir 'n besluit.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, sê die mense van Soweto het vanself by die diens opgedaag.

Mabe sê hordes mense het reeds langs die straat gestaan toe die liggaam na die huis geneem is.

"Die ANC is nie daarvoor verantwoordelik om mense te beheer waar hulle bly nie," sê hy.

Mlangeni (95) is Woensdag tydens 'n spesiale amptelike begrafnis ter ruste gelê. Pres. Cyril Ramaphosa het die lofrede gelewer.

Intussen het beeldmateriaal van drie weermaglede, wat op kamera betrap is waar hulle by die struggle hero Andrew Mlangeni se begrafnis gestaan en rook het, verdere kritiek ontlok. - News24


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters