2 maande gelede
Eerstejaars ook Lentedag terug
MATIES: Opgewonde eerstejaarstudente kom in Januarie by Maties aan – min wetende hoe hul jaar gaan uitdraai.  ~ Netwerk24

EERSTEJAARS kan hulle solank gereed maak.

Dié studente keer op 1 September terug kampus toe.

Dr. Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, het Woensdag hierdie aankondiging gedoen.

Hy sê luidens die kriteria wat ontwikkel is, is dit moontlik dat tot 66% van studente op vlak 2 van lockdown na universiteitskampusse kan terugkeer.

“Dit sal geskied met die nodige planne vir die sektor om die veiligheid van studente en personeel te verseker terwyl daar ook meer toegang tot kampusonderrig vir studente moontlik gemaak word.”

Studente wat op vlak 2 sal terugkeer, sluit in alle groepe wat geprioritiseer is om op vlak 3 terug te keer, maar nie geakkommodeer kon word nie omdat die maksimum-kapasiteit bereik is.

Dit sal studente in alle studiejare insluit wat tegniese en laboratoriumtoerusting benodig om hul akademiese jaar te voltooi.

“Dis ook studente in alle studiejare wat praktiese plasings en onderrig in ’n werkplek-omgewing benodig om die jaar te voltooi mits die werkplekke en platforms oop en voorbereid is. Alle eerstejaarstudente in voorgraadse programme sal ook terugkeer.”

Volgens die minister sal alle ander studente steeds deur afstandonderrig en assessering ondersteun word totdat hulle na kampusse kan terugkeer.

Benaderings

Nzimande beklemtoon: “Elke instelling sal die inwerkingstelling van die kriteria volgens hul eie akademiese program, planne en strategieë bepaal.

“Ek is ook bewus daarvan dat daar verskillende benaderings en strategieë vir voltooiing in die stelsel is en dat sommige instansies probleme ondervind om hul onderrig- en leerplanne effektief te implementeer.”

Hy voeg by alles in hul mag is gedoen om te verseker dat instellings ondersteun word om op die beste moontlike wyse te reageer.

Lauren Kansley, woordvoerder van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (CPUT), sê hulle sal ’n soortgelyke benadering volg as toe hulle die aanvanklike 33% op vlak 3 van die lockdown terug op die kampus verwelkom het.

“Dit sal ’n ingefaseerde benadering behels en is gegrond op onder meer studente se toegang tot laboratoria.

“Ons voorsien dat groepe studente beurte gaan maak om terug te keer na die kampus vir blokke van studie en dan sal terugkeer huis toe om plek te maak vir ander om terug te keer.”

Sy sê CPUT het sowat 30 000 mense by die kampusse se ingange gesif en die track-en-trace-metode om potensiële Covid-19-positiewe gevalle te identifiseer, het ook goed gewerk.

Uitgereik

“Minister Nzimande het CPUT in ’n onlangse toespraak as ’n ‘lae risiko’ gelys, en dit is ’n bewys van die uitstekende en proaktiewe werk wat ons gedoen het om die pandemie op die kampus aan te pak,” se sy.

Kansley voeg by hulle reik gereeld hersiene student- handleidings uit en binnekort sal ’n nuwe een spesifiek vir vlak 2 uitgereik word.

“Fakulteite kommunikeer ook direk met hul studente.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters