Verlede maand
Eerste skooldag begin met min probleme
skool
Foto ter illustrasie: Jonathan Lestrade  ~ Jonathan Lestrade

NA VYF maande is die meeste leerders Maandag terug na die skoolbanke.

Terwyl grade R, 1, 2, 3, 4, 6, 9, 10 en 11 vandag terug gekeer het na die skoolgronde is grade 7 en 12 al vir twee weke terug.

Leerders van grade 5 en 8 maak hul terugkeer volgende week.

Bronagh Hammond, 'n woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê: "Ondanks die leerders wat terug is by die skool, is daar diegene wat nie gelukkig is daaroor nie."

Sy voeg by dat alle skole hul klasroosters moes aanpas om te verseker dat die nodige gesondheids- en-veiligheidsmaatreëls gevolg word.

"Daar is skole wat die grade roteer deur hulle in groepe op te deel. Dit help om te verseker dat die toepaslike fisiese afstandsmaatreëls nagekom kan word."

Volgens Hammond was daar Maandag slegs een geval van ontwrigting wat onder hul aandag gebring is.

Sy verduidelik: "Ouers het geëis dat hulle kinders in die skool toegelaat moet word, maar dit was nog nie daardie grade se beurt nie." 

Intussen noem sy dat sowat 70% van gr.12-leerders skool bywoon.

Haar reaksie kom nadat die mayor van Langeberg-munisipaliteit, Schalk van Eeden, in 'n verklaring sy kommer uitgespreek het oor die swak bywoning van gr.12-leerders in die streek.

Hammond noem dat die bywoning in die Kaapse Wynland-distrik, waaronder Langeberg val, vir gr.12 ook sowat 70% in die distrik is.

Intussen sê Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse minister van onderwys, dat: " Nie alle leerders wie Maandag terugkeer Maandag ook klas sal hê nie.

"Elke skool het 'n hersiene onderwysplan. Grade sal op alternatiewe dae of weke klasse bywoon."

Sy voeg by dat slegs twee skole vir ontsmetting gesluit het, nadat gevalle van Covid-19 aangemeld is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters