10 dae gelede
Eerder honger as ’n pes-dood
GESLUIT: Dié fabriek is toegekap al sedert die lockdown begin het.  ~ Melinda Stuurman

“ONS gaan liewer van honger dood as van die corona-virus.”

Só sê werkers van Alnet, ’n fabriek in Epping Industria naby Bonteheuwel.

Dis nadat die werknemers antwoorde geëis het oor hulle uitbetalings van die Unemployment Insurance Fund (UIF).

Alnet-werkers sê aan Son hulle het sedert die begin van die lockdown net een keer ’n weeklikse loon ontvang.

Alnet moes sy exports weens die lockdown op ys sit.

Die werkers wat al weke by die huis sit sonder werk én betaling het hulle geld onlangs by die fabriek se perseel gaan eis.

Kwalifiseer

Werkgewers wat nie die kostes kan dra nie, kan aansoek doen om verligting kragtens die Wet op Rampbestuur. Dis sodat hulle hul werkers kan uithelp wat te midde van die lockdown niks het nie.

Só het die minister van arbeid en indiensneming, Thulas Nxesi, vroeg in die lockdown gesê.

Maatskappye wat nie vir dié verligting kwalifiseer nie, kan namens hulle werknemers aansoek doen om UIF, het Nxesi gesê.

’n Werker, Christine Smit, vertel ondanks die werkgewer se promises dat hulle hul UIF-geld sal kry, wag hulle steeds daarvoor.

“Ek dink nie die werk­gewer neem ons ernstig op nie,” meen Smit. “Want hoe lank wag ons nou al vir ons geld?”

Nog ’n werker, Craig Botha, sê hy het nou so desperaat geraak dat hy begin geld leen het om kop bo water te hou.

Botha sê: “Ek het nou begin geld leen wat ek nie eens weet wanneer ek dit kan terugbetaal nie.

“My familie is honger. Ek weet nie hoeveel langer ek só kan aangaan nie.

“Ons gaan eerder nou dood van honger as aan die virus.”

Alnet se HR-bestuurder, Louis Stander, sê die maatskappy het al sedert 26 Maart verskeie kere per e-pos by die departement aansoek gedoen om hulp vir sy 450 werkers.

ONTEVREDE: Dié fabriekswerkers trek swaar en wil heeltyd wil weet wat gebeur met hulle UIF-aansoeke. Foto: Melinda Stuurman

Volgens hom het die formaat vir dié aansoeke verskeie kere verander en boonop is sy maatskappy se rekening uitgeskop en op die departement se stelsel geblok.

Intussen het Alnet geen toegang tot die stelsel nie en geen aanduiding dat sy aansoek ontvang is of dat dit verwerk word nie, sê Stander.

Hy sê: “So, minister Nxesi sê die rede waarom so baie werkers nog nie hulle UIF-geld ontvang het nie, is omdat hulle werkgewers nog nie eens namens hulle aansoek gedoen het nie.

“Dis net nonsens wat hy met desperate en honger mense praat in ’n poging om sy eie departement se onbevoegdheid weg te steek.”

Stander sê verder hy probeer nog daagliks om die aansoek deur te sit na die departement.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters