15 dae gelede
Duisende gevoed
HEERLIK: Rose Smith van Conville deel ook kos uit.  ~ Foto Verskaf

GEORGE se munisipaliteit gaan met behulp van sy 137 sopkombuise voort met sy voedingskemas in die gemeenskap.

Die munisipaliteit word bygestaan deur ’n drive-through-donasiesentrum by die burgersentrum.

Trevor Botha, munisipale bestuurder, sê duisende mense is afhanklik van die munisipale voedingskema, selfs al het baie mense nou weer gaan werk en al is voedingskemas by skole ingestel.

“Tydens vlak 5 van die lockdown in April en Mei het ons twee keer per dag sop aan 22 000 mense gegee en nog 9 000 maaltye verskaf.”

Botha sê die sukses van die voedingskema is te danke aan ongelooflike mense wat daar werk en bly.

“Dit is personeel wat lang ure werk – sewe dae van die week – en gewone mense wat by hul huis ’n sopkombuis het.”

Botha sê hulle kon dit ook nie gedoen het sonder die donasies wat hulle kry van individue, besighede, NGO’s en die drive-through-donasies nie.

Ál 137 sopkombuise sal steeds oop bly. Die sentrum waar kos geskenk word, sal ook oop bly as mense skenkings wil maak.

Mense wat iets wil bydra, kan dit weekdae tussen 10:00 en 16:30 en Saterdae tussen 10:00 en 14:00 by die drive-through centre af­lewer. Dis by Yorkstraat 71, George. Skenkings kan ook aanlyn gedoen word.

Goed soos kookolie, sout, mieliemeel, meelblom, gis, Weet-Bix, melk, suiker, koffie, Oros, stampmielies en bone, sojamaalvleis, macaroni, blikkieskos, vleis, vis, ensovoorts, kan geskenk word. Hulle makeer ook opwasmiddel vir skottelgoed, sponse, vadoeke, seep en tandepasta.

Alles word gesanitise voordat dit gestoor word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters