16 dae gelede
Drywers laai vol
IS DUIDELIK duidelik: Hierdie taxi-guardjie is, Covid-19 ten spyt, verheug om weer in ’n vol taxi te ry.  ~ Theo Jeptha

ASOF die moontlike havoc wat Covid-19 in die Oos-Kaap gaan saai die gesondheidsowerhede nie al klaar genoeg nagmerries gee nie, het plaaslike taxi-operateurs ook nou begin om hul taxi’s 100% vol te laai.

Taxi-operateurs in die Baai laai vol nadat die South African National Taxi Council (Santaco) aangekondig het dat hy nie meer die 70%-lading van taxi’s onder lockdown gaan eerbiedig nie.

Santaco is die dinges in vir die regering wat volgens hom nie wil opdok om taxi-operateurs se verlies aan inkomste te buffer nie.

Nadat verskeie vergaderings met die minister van vervoer, Fikile Mbalula, gekanselleer is, het Santaco Sondag hierdie stap aangekondig.

Volgens Santaco sal passasiers steeds maskers moet dra en hul hande sal gesanitise moet word.

Stampvol

Mense wat tussen provinsies reis, sal volgens Santaco egter nie gevra word om ’n permit te wys wat so ’n reis magtig nie.

In die Baai het taxi-drivers nie op hulle laat wag om weer hul taxi’s stampvol te laai nie. Taxi drivers en guardjies by die taxi rank by Cleary Park was duidelik in hul noppies om “volle” business te maak.

Pendelaars het styf teen mekaar met hul maskers op gesit.

Doidee Arnold, ’n pendelaar, sê sy het g’n ander keuse nie.

“Hierdie is die enigste means van transport vir my.

“Ek dra maar my masker en sanitise my hande en hoop dat die driver seker maak daar is spasie tussen almal van ons,” het sy gesê.

Jerome Lombaard sê hy is bly dat hulle weer bietjie geld kan maak. Foto: Theo Jeptha

Jerome Lombaard, ’n taxi driver, sê hy is bly dat hulle weer 100% vol kan maak.

“Ek het twee groot kinders wat ek moet onderhou en die geld wat ek gedurende lockdown maak, kom nie uit nie.

“Dan moet my vrou-hulle weer tot die volgende dag wag om iets te eet, so dis beter as ons vol kan laai,” het Lombaard gesê.

Andile Andries, algemene sekretaris van die Nelson Mandelabaai streekstaxi-raad (NMBSTR), sê hulle het taxi-operateurs aangeraai om te bly by die 70%-lading van taxi’s. Die NMBSTR het 550 lede, wat 3 500 taxi’s in die Baai bedryf.

Help

“Indien hulle taxi’s vol laai, sal hulle persoonlik verantwoordelik gehou word.

“Dít is die boodskap wat ons aan die associations oorgedra het. Ons het hulle gevra om hul lede so in te lig.

“Daar is dissiplinêre stappe in plek vir mense wat taxi’s overload,” het Andries gesê.

Volgens hom is dit meer as 100 dae sedert die regering beloof het om die taxi­bedryf te help gedurende die moeilike tye van die lockdown.

“Voor die lockdown het taxi-eienaars daagliks R5 000 wins gemaak. Nou maak hulle geen wins nie.

“Hierdie mense kan nou nie hul families onderhou nie en sukkel om hul voertuie se paaiemente te betaal.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters