Verlede maand
Dorses haal uit en hoes
DESPERAAT: Oral doen mense allerhande dinge om tog net ’n dop in die hande te kry.  ~ Foto ter illustrasie: Netwerk24

ROBERTSON. – Drinkers steek in die tyd van die Covid-19-pandemie hul hand diep in die sak vir ’n dop.

Drinkers hier was Sondag al vroegdag op en af op soek na ’n dop.

Son het by verskeie shebeens verby gery en gesien hoe baie van die smokkelaars nog onwettig handel dryf.

By een smokkie was daar glad ouens wat wag gehou het terwyl die drank verkoop word.

Een van die wagte het selfs gemaan dat mense nie so naby die huis moet saamdrom nie, want die cops kan toeslaan.

Karre het ver van die smokkie gestop en gewag vir ’n gap om hulle kratte biere vol te maak.

Een ou het met 10 kiste bier in sy kar weggekom.

Volgens die man het hy vir een kis bier R500 betaal.

Nog ’n klant, ene Jannie, sê hy het gekom vir 10 bokse whisky.

“Ek myself gooi uit en my plek het drooggeloop,” vertel hy.

Volgens hom het die klomp whisky hom R15 000 uit die sak gejaag.

Nog ’n ou sê hy vul stock aan vir Easter.

Aanklop

Son het met ’n shebeen-eienaar gepraat.

Dié eienaar sê hy hou by die reëls.

“Mense kom nog elke dag aanklop vir ’n dop, maar ek kan mos nie die reëls oortree nie,” sê die man.

Volgens hom het hy ook nie nou ’n inkomste nie, maar moet kop bo water hou.

Kapt. Marchel Klaasten, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie kry in­ligting van mense wat steeds onwettig in drank handel dryf.

Klaasten vra dat inwoners inligting aan die polisie verskaf en die polisie sal teen die onwettige smokkelaars optree.

Hy sê: “Sover het die polisie reeds een persoon gearresteer vir die onwettige handel in drank.”

Volgens Klaasten kan mense wat hulle skuldig maak aan dié misdryf, tronkstraf of ’n boete kry.

Die voorsitter van die gemeenskapspolisiërings­forum en ook die dorp se maatskaplike werker, Bernard Cupido, sê die polisie patrolleer gereeld die strate.

Cupido sê mense brou in dié tyd hulle eie pynappelbier en verkoop dit.

Volgens Cupido kan mense wat aan drank verslaaf is, die nodige hulp kry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters