16 dae gelede
Dominee preek per livestream
VERLATE: Dominee Freddie Ayford van die VGK in Huguenot in die Paarl met sy leë kerk.  ~ Jonathan Lestrade

DIE corona-virus dwing kerke om die evangelie te bring na mense wat nie kerkdienste kan bywoon nie.

Só sê dominee Freddie Ayford van die VGK by Huguenot in die Paarl.

Die kerk was Sondagoggend dolleeg, maar hy het sy erediens per livestream na sy gemeente geneem.

Ayford sê hy was angstig hieroor omdat dit die heel eerste keer is dat hy van dié metode gebruik gemaak het.

Hy sê pres. Cyril Ramaphosa se verklaring van ’n ramptoestand het hulle gedwing om na alternatiewe te kyk.

Die besluit dat meer as 100 mense nie meer byeen kan kom nie, beteken hy moet ’n ander manier kry om die kerkdiens te hou.

Ayford sê: “Ek het besef ons sal ’n alternatief moet kry. Dit was snaaks om vir dolleë kerkbanke en net ’n kamera te preek.

“Ons kan nie sê ‘business as usual’ nie, want dit is nie business as usual nie.”

Volgens hom het hy eers deur die kerk se Facebook-blad met die gemeentelede gekommunikeer.

Die idee van ’n livestream het posgevat.

Ayford sê: “Ek is van die vorige generasie. Daarom was dit ’n groot aanpassing vir my om te livestream.

“Ek moet dankie sê aan my seun Rowan (Ayford), wat vir my gehelp het met die livestream.

“Omdat daar geen internet by die kerk is nie, moes ons ’n router gekry het vir die internet-konneksie.

“Die kerk het reeds ’n kamera wat ons gebruik het.

Dink

“ Ons het in die week die livestream getoets.

“In die begin was daar ’n klankprobleem, maar dis uitgesorteer.

“Die corona-virus het ons gedwing om aan alternatiewe te dink en die boodskap steeds aan die gemeente te bring.”

  • Die “wyngemeente” wat so graag pubs toe gaan, se tjank is ook intussen afgetrap met die nuwe regulasies.

Jacques Demas, ’n werknemer by ’n kroeg in die Paarl, sê die plek het al vanaf laas week begin stil raak.

Demas sê: “Ons het geen alternatief nie, want ons is gesê ons mag nie ná ’n sekere tyd verkoop nie.

“Ons moet maar die reël respekteer, want die polisie kom enige tyd kyk. Dis nie goed vir besigheid nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters