11 dae gelede
‘Distancing’ looi armes
Ontevrede: Gizella Opperman glo Sassa gooi weerloses vir die wolwe. FOTO VERSKAF  ~ 

DIT lyk asof die lockdown die wind uit die seile van behoeftige inwoners gehaal het.

Dié keer is dit nie as gevolg van die Covid-19-pandemie nie. Nee, dit is weens die hardgebakte houding van Sassa-personeel.

Volgens raadslid Gizella Opperman, kiesafdelingshoof van die Hantam en Karoo-Hoogland, sukkel die inwoners van Loeriesfontein om aansoek te doen vir finansiële verligting.

Sy sê aan Son op Sondag: “Ons kwesbaarste burgers word verhinder om aansoek te doen om maatskaplike verligting omdat hulle te arm is om vervoer na die kantore van Sassa en binnelandse sake te bekostig.

“Die DA wil dus hê die Noord-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling moet aandag aan dié kwessie gee om seker te maak dat gemeenskappe toegang tot maatskaplike hulpver­leningsprogramme het.”

Haar grootste issue is dat Sassa-dienste in armer en plattelandse gebiede sedert die inperking opgeskort is – met geen alternatiewe stelsels in plek nie.

Bedien

’n Plaaslike inwoner, Gabrielle Klaaste, moet met haar driejarige seuntjie 70 km na Niewoudtville se Sassa-kantore reis vir ’n aansoek om kindertoelae. Maar eers moet sy haar ID by die departement van binnelandse sake in Calvinia (130 km ver) gaan haal. Dit beteken dis sowat 400 km vir een aansoek en sy’t nie geld nie.

’n Amptenaar van Sassa se kantore in Niewoudtville, wat ook bedoel is om gebiede soos Loeriesfontein te bedien, het bevestig hulle is dié week kennis gegee dat hulle ondanks die skuif na vlak 3 steeds nie die kleiner dorpe mag bedien nie.

Pleks daarvan moet mense van omliggende dorpies hul eie reëlings tref om Sassa se kantoor in Niewoudtville te besoek. Dít is glo hoofsaaklik weens veiligheidsuitdagings by die gemeenskapsale wat in kleiner dorpe gebruik word.

Opperman sê só word die kwesbaarste mense op die platteland vir die wolwe gegooi. Sukkelende inwoners wat op satellietdienste moes staatmaak, moet nou op eie koste by hul naaste Sassa-kantore in groter dorpe kom vir maatskaplike verligting.

Sy sê verder: “Die DA wil hê die departement van maatskap­like ontwikkeling moet ingryp.

“Sassa en binnelandse sake moet stelsels in plek stel sodat behoeftige mense nie uitgesluit word ten opsigte van hulp nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters