6 maande gelede
Dis meer as net ’n sopkombuis
GEE KOS: Moos Williams (tweede van regs) van MMLL Transport, saam met John Maxwell, Phillip Seroux en Franzu Badenhorst by van die kinders van Polisiehoogte in Oudtshoorn.  ~ Garnett Wicomb

OUDTSHOORN. – Die sopkombuis van Phillip en Susanna Seroux is nie net ’n plek waar sop uitgedeel word soos by die meeste sopkombuise nie.

“Ons het begin met sop, maar vir byna ’n maand al gee ons nou elke dag van die week ’n maaltyd aan 100 tot 150 kinders van die Polisiehoogte-omgewing.

“Ons leer ook die kinders van sosiale distansiëring, om hul hande gereeld met seep en water te was, en die gevare van die virus,” vertel Phillip.

Volgens hom is dit ook hul verantwoordelikheid om na die kinders se gesondheid om te sien.

Hy het goedkeuring vir die sopkombuis en moet by die regulasies van die Covid-19-inperking hou.

Die projek het dié week nog ’n hupstoot gekry met ’n skenking van brood vir sewe weke.

Moos Williams van MMLL Transport, verspreider vir Sasko in Oudtshoorn, het ingestem om elke Dinsdag 20 brode te skenk.

Verskuldig

Phillip sê om die projek volhoubaar te maak, is dit noodsaaklik om skenkers te kry omdat hy self werkloos is.

“Ek is baie dank verskuldig aan ’n groot aantal persoonlike vriende wat hul hande in hul sakke steek vir die projek, asook ’n paar besighede. Ons dank die Here, want dit is Hy wat alles moontlik maak.”

Die kosgee-projek is al vir vier weke aan die gang en danksy die skenkers kon hulle nog elke dag aan die kinders ’n bakkie warm kos gee.

Phillip het ’n spesiale woord van dank aan Franzu Badenhorst van Famsa Karoo wat elke dag sy tyd opoffer om by die sopkombuis te help.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters