Verlede maand
Dinge steeds oukei in Kaap

DIE Wes-Kaapse premier en minister van gesondheid hou vol hulle is op die regte pad in die fight teen Covid-19.

Dít volg al het die provinsie die meeste corona-infeksies in die land.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en LUR vir gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo, het Donderdagoggend die Spar by die Khayelitsha-winkelsentrum besoek.

Dit volg nadat al die personeel­lede vervang moes word nadat ’n volle 56 van hulle positief getoets is vir Covid-19.

Son op Sondag het vroeër berig die winkel is gesluit en ontsmet nadat die positiewe gevalle geïdentifiseer is.

Mbombo en Winde was by die winkel om te kyk watter maatreëls gevolg word om verdere besmetting te voorkom.

CHECK: Die Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, dr. Noma­french Mbombo, se temperatuur word gemeet voordat sy by die winkel ingaan. Foto’s: MELINDA STUURMAN

Tevrede

Kopers word aangemoedig om fisieke distansiëring toe te pas, hul temperatuur word by die deur gecheck en die winkel word elke dag ontsmet.

Mbombo sê sy is tevrede met die maatreëls. Sy voeg by die provinsie se syfers is tans die hoogste in die land omdat die Wes-Kaap die meeste toetse uitvoer.

“Sover dit die toetsing betref, teiken ons die plekke waar daar meer mense vergader,” voeg sy by.

“Want as jy tuis sit, is die kanse maar klein dat jy besmet sal word.

“Hoe meer mense jy mee ver­gader, hoe meer kanse is daar dat jy besmet gaan word.

“Daarom target ons plekke soos shopping malls en tronke, waar daar baie mense op dieselfde tyd byeen is.”

Winde sê op sy beurt die Wes-Kaap geld vir 10% van die land se bevolking, maar het al 16% van die land se toetse gedoen.

“Dis omdat ons nie net screening en toetse doen nie,” sê Winde. “Ons doen ook aggressiewe tracking van die mense wat in aanraking gekom het met ’n persoon wat as positief geïdentifiseer is.”

Mbombo en Winde het ook ’n bietjie by die Shoprite in die mall rondgeloop.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters