9 dae gelede
Dienste stort in duie
STADIG: Die maternity-personeel by Dora Nginza is tans op ’n go-slow.  ~ Theo Jeptha

’N KREUPEL gesondheidsektor en mense wat hulle glad nie aan social distancing steur nie druk die Oos-Kaap al hoe meer terug na vlak 4 van die lockdown.

Thsonono Buyeye, waarnemende burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, meen die regering moet die Baai maar eerder weer op vlak 4 van die lockdown-regulasies sit.

Buyeye sê terwyl die verslapping van die lockdown-regulasies van vlak 4 na 3 die ekonomie gehelp het, steur mense hulle eenvoudig nie aan die regulasies nie.

Die Metro is tans onder die vergrootglas, want die een ná die ander krisis ry die hospitale.

Verpleegpersoneel by die Dora Nginza-hospitaal se maternity ward is tans op ’n go-slow.

Dieselfde gebeur by die Livingstone-hospitaal, waar verpleegsters, skoonmakers, portiere en kokke ook hierdie paadjie gevolg het. By Livingstone is dit so erg dat die dokters beddegoed na hul eie huis gevat en dit daar gaan was het.

LANG SAAK: By die Livingstone-hospitaal wag pasiënte maar so lê-lê om gehelp te word. Foto: Theo Jeptha

Buyeye sê hoewel die Metro bewusmakingsveldtogte gedoen het, steur min mense hulle aan die lockdown-regulasies.

“Wat vreesaanjaend is, is dat die mense se houding só is dat ’n mens nie eens sou sê daar is ’n krisis nie.

Verbod

“Mense gaan soos normaal aan met hul dinge, so asof daar nie ’n dodelike virus is nie.

“Ons het ook ’n spike in Covid-19-gevalle gesien toe die verbod op die verkoop van drank gelig is.

“Mense gee eenvoudig nie om nie.

“Ons sal ’n strenger boodskap moet uitstuur en selfs vir mense foto’s van grafte moet wys, want dis waar hulle gaan opeindig as hulle nie gehoor gee nie,” het Bu­yeye gesê.

WAG: Pasiënte staan in lang rye by die Livingstone-hospitaal. Foto: Theo Jeptha

Die dekaan van die departement gesondheidswetenskappe by die Nelson Mandela-Universiteit, prof. Lungile Pepeta, het verlede week voorspel die infeksiekoers in die Metro gaan binne 10 dae verdubbel.

“Die situasie in die Oos-Kaap gaan vererger. Ons het eenvoudig nie genoeg personeel en mense om hiermee te deal nie.

“Die virus is besig om soos ’n veldbrand te versprei en daar is baie druk op die bestaande hulpbronne.

“Alles moet daagliks hersien en toegepas word, maar ek sien nie ’n plan van aksie nie,” het ’n bekommerde Pepeta gesê. – News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters