3 maande gelede
Die vog vloei!
CHEERS! Chriszaune Klein (links) en Lorensla van Rensburg met al die “niggies en nefies” wat hulle so gemis het.  ~ 

“EK IS so opgewonde om al my ‘niggies en nefies’ weer te sien!”

Dít is hoe Lorensla van Rensburg van Avonwood na vodka, gin en bier verwys na wie sy meer as twee maande dae verlang het.

Van Rensburg het nog voor sonop opgestaan om moontlik voor in die koor te wees om haar drank by Tops in Avonwood te koop nie.

Die drankwinkel is dieselfde een waarby daar in April ingebreek is. Heelwat drank het toe voete gekry.

Gister was die atmosfeer totaal anders as toe daar ingebreek is.

Mense het geduldig in die lang ry gestaan en hul beurt afgewag.

“Ek is al van 07:00 hier om seker te maak,” sê Van Rensburg met ’n laggie.

Van Rensburg het gesê sy het R2 500 gereed om “al die familie te koop. Dié van R600 betaal vir ’n bottel kan my maar mis. Ek het goed voorbereid gekom en seker gemaak my geldjies is bymekaar,” spog sy.

Van Rensburg sê sy gaan die drankies saam met haar familie en vriende geniet. 

Genoeg

Vir Godfrey Swartbooi, wat ook ’n helse droogte in sy huis gehad het, is dit ’n groot verligting om weer sy gunsteling-wyn te kan koop.

Swartbooi sê: “Ek gaan nou een keer genoeg koop sodat ek nie weer winkel toe moet kom nie.

“Ek is sedert 08:55 hier, net voor die winkel oopgemaak het, om my plek in die ry te kry.

“Ek sien uit om my drankies te kry en by die huis te geniet.”

Vir Peter Faro en Antonio Opperman, wat geduldig voor die geslote deure van die Tops in Avonwood gestaan en wag het, is die verkope van drank ook ’n verligting.

Faro sê: “Ons speel nie nog rond nie. Ons soek net ons biere en dan is ons orrait.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters