4 maande gelede
Crèches gereed om te heropen
Dis tyd: Sharna Fernandez, die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, by ’n besoek aan ’n kleuterskool in Wellington in November 2020.FOTO’S VERSKAF  ~ 

SOOS wat baie mense terugkeer na hul werksplek, heers daar nog onsekerheid oor die heropening van skole.

Daar is wel sekerheid dat kleuterskole hulle gereed maak vir die nuwe jaar.

Hulle sal egter nie op ’n 100%-kapasiteit kan funk­sioneer nie.

Volgens die huidige Covid-19-regulasies mag ’n kleuterskool open mits die eienaar kan verseker dat hulle binne die Covid-19-riglyne kan funksioneer.

Waar daar voorheen 30 kinders by ’n kleuterskool sou wees, kan daar nou, om sosiale afstand te handhaaf, net 20 wees.

Chester Arendse, administrateur by Learn and Grow-kleuterskool in Tafelsig in Mitchells Plain, sê daar is ’n groot aanvraag in hul omgewing, veral noudat die ouers terugkeer na hul werk toe.

“Soos talle ander het 2020 ons ook maar swaar getref, maar ons het ons fasiliteite sedert die begin van die nuwe jaar voorberei.”

Hy noem hulle het al die nodige maatreëls, soos wat deur die regering voorgeskryf word, ingestel en verbind hulle daartoe om daarby te hou en seker te maak die kinders is veilig en word beskerm.

Draers

“Elke kind moet ’n masker dra. Indien ’n leerder nie een het nie, word ’n verseëlde masker oopgemaak en aan die kind gegee.”

Arendse sê hoewel jong kinders nie maklik geraak word nie, kan hulle draers van die virus wees.

“In die klaskamer het elke kind sy eie lessenaar en daar is ook die voorgeskrewe afstand van 1,5 m. Dié afstand word ook in die speelarea toegepas.”

Melanie Andrews, eienaar van Cuddles and Care in Atlantis, sê die begin van die lockdown in Maart 2020 het gemaak dat baie kleuter­skole nie weer kan oopmaak nie weens ’n gebrek aan fondse.

Andrews sê by haar het ouers nie vir daardie maande betaal nie, maar haar onder­wysers se salarisse moes steeds betaal word.

“Ons was gelukkig om suksesvol in Julie te kon oopmaak, terwyl baie ander nie kon nie.”

Volgens Andrews het hulle geen ondersteuning van die departement van maatskaplike ontwikkeling gekry het nie.

Intussen het die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez, ’n beroep gedoen op kleuterskole wat voorbereiding tref om te open, en dié wat reeds oop is, om die gesondheid- en veiligheidsmaatreëls na te kom.

’n Verklaring van Fernan­dez lui: “Die maatreëls by kleuterskole sluit in uitgebreide veiligheidsopleiding vir personeel, daaglikse keuring en hande was by hul aankoms vir personeel en kinders, verspreide aankomstye vir verskillende ouderdomsgroepe en ouderdomstoepaslike opvoeding vir kinders oor Covid-19.

“Die departement sal ook voortgaan om met ge­registreerde kleuterskole saam te werk om te verseker dat die nodige maatreëls in plek is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters