4 maande gelede
Cops 'kom shop'
DIEWE? Ali Hussan wys hoe die twee beamptes byna sy hek afgebreek het om sy entjies te kom vat.  ~ Murphy Roberts

MET die prys van ’n los entjie wat duurder as ’n liter petrol is, het twee wetstoepassers na bewering besluit om buitelandse winkeleienaars te teiken – vir eie gewin.

Sigarette wat normaalweg teen R10 ’n pakkie verkoop het, word nou tydens die verbod op die verkoop van sigarette teen byna R200 verkoop en is beslis ’n goudmyn.

Volgens Ali Hussan, eienaar van ’n huiswinkel in Uitbreiding 12 in Atlantis, het twee wetstoepassers onlangs sy winkel besoek en amok gemaak.

Die Bangladesjer vertel dat die twee op Donderdag 14 Mei byna die plek afgebreek het soos hulle gespook het om toegang tot sy winkel te verkry.

Die geskokte eienaar sê aan Son hulle het ’n verseëlde boks sigarette in sy pakkamer gekry en ook ’n groot bedrag kontant gekonfiskeer.

“Ons weet wat die wet is en daarom het ek die sigarette verseël en in my pakkamer gebêre.”

Hy vertel dat die twee vort is met die groot boks sigarette en kontant.

“Ek het gevra hoekom vat hulle die sigarette en waarom reik hulle nie die boete uit wat die wet voorskryf die polisie of wetstoepassers moet gee indien hulle mense betrap wat handel dryf in sigarette nie.

“Maar hulle het net geloop asof hulle kom inkopies doen het.”

Hussan vertel dat hy onraad vermoed het en onmiddellik die polisie gebel het.

Hulle het toe vir hom gesê die manne het onwettig opgetree.

Volgens Hussan het hy toe ’n saak teen die twee polisielede gemaak.

Dít nadat daar geen sigarette by die polisiestasie ingehandig is nie.

Die boks, wat 500 pakkies sigarette bevat het, het ’n swartmarkwaarde van sowat R100 000.

Ingeloop

Die rookgoed het egter nou spoorloos verdwyn.

Hy vertel dat die twee eers ná twee dae – toe hulle hoor daar is ’n saak – 100 pakkies entjies by die stasie ingehandig het.

Hussan vaar uit dat die twee verskeie eienaars op dié manier ingeloop het.

Volgens kapt. Cyril Dicks, polisiewoordvoerder, word klagte van diefstal teen die twee beamptes ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters