Verlede maand
Cop shop haal weer die nuus
IN DIE SOP: ’n Bron sê die hogere cop is ná twee ure uit die tjoekie vrygelaat.  ~  Grafika ter illustrasie: Tyrone Apollis

NOG ’n skande het die Bonnievale-polisiestasie getref.

Dít kom nadat een van die heel hogeres van die polisiestasie Saterdag vir beweerde dronk- en roekelose bestuur gevang is.

Die polisiekaptein, wat van diens af was, het na verneem word dronk­bestuur. Hy het glo probeer wegjaag toe die cops hom probeer aftrek het.

Die kaptein is van Montagu, maar hy woon in Bonnievale. Hy is in die hoofstraat voorgekeer en ge­arresteer.

Die cops het ook ’n boks brandewyn agterin sy motor se kattebak gekry.

Volgens ’n ingeligte bron is die kaptein ná twee ure vrygelaat.

Klagte van dronkbestuur, roekelose bestuur en die besit van drank tydens die lockdown staar die kaptein nou in die gesig.

Die voorval volg kort nadat sewe cops van die Bonnievale-polisiestasie na bewering inbrake ge­stage het om drank te bekom.

Die twee sersante en vyf konstabels is verlede week uit die polisiediens geskop.

Hulle het na bewering ’n inbraak by ’n drankwinkel in Bonnievale gestage en dit kastig gaan ondersoek.

Die bewering is dat hulle toe drank probeer steel het.

Dié planne is egter in die wiele gery omdat cops van Montagu, Worcester en Bonnievale besig was met operasies in die gebied.

KONSTERNASIE-STASIE: ’n Hoë van dié polisie­stasie is die naweek vir dronk- en roekelose bestuur gearresteer.

Hulle is aangekla van regsverydeling en huisbraak met die opset om te steel. Hulle is op borgtog van R5 000 elk buite.

Diana Gagiano, voorsitter van die Bonnievale-polisiëringsforum, sê sy is nie van die voorval verwittig nie, maar sy is geskok daaroor.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, is ’n saak van dronk- en roekelose bestuur, asook die verbreking van die lockdown-regulasies, geopen.

Stappe

Van Wyk sê: “Daar is strafregtelike klagte teen die 35-jarige polisiebeampte en interne dissiplinêre stappe sal ook teen hom gedoen word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters