Verlede maand
Chroniese pyn van lang lyn weg
ENGELE: Home carers loop en deel medikasie uit.  ~ Peter Abrahams

DIT lyk of dinge ’n bietjie mak­liker gemaak word vir dié wat op chroniese medisyne is.

Dag 1 van die landwye lockdown het nie by die Mitchells Plain Daghospitaal so lekker afgeloop nie. Sowat 120 pasiënte het buite gestaan en wag om hulle chroniese medisyne vir die maand te ontvang.

Mense het oor hulle veiligheid gemoan en gekla dit raak ’n broeiplek vir die virus as hulle so saam moet sit en wag.

Monique Johnston, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het Son verseker die mense hoef nie meer in rye te staan nie.

Volgens Johnston is ’n plan gemaak dat medikasie tydens die lockdown by die pasiënte afge­lewer word.

“Om die verspreiding van corona-virus te stop, vra ons dat net pasiënte wat nooddienste benodig en dié met afsprake na die daghospitaal kom.

“Dit sluit mense uit wat noodbehoewende sorg, gesinsbeplanningsdiens en voorgeboortesorg ontvang.

“Waar moontlik, sal pasiënte voorsien word van twee maande se chroniese medikasie. Dié wat nie-dringende operasies moet kry, sal in ’n later stadium daarvoor kom omdat dit onder lockdown vir eers gestaak is.”

In Rocklands het die eerste pasiënte wat chroniese meds kry reeds hulle pille ontvang.

Afgee

Lede van Arisen Women werk as community health carers en home carers. ’n Groep van omtrent 10 het heel vrolik die medisyne by mense se blyplek gaan afgee.

Spaas Martin (67) en Ernest Kensley (62) is van die mense wat pille ontvang het.

Martin is baie dankbaar. “Dit maak dinge soveel makliker. Hulle kom met twee maande se pille, nou hoef ons nie oor lang lyne te worry nie.”

Kensley stem saam en is ewe dankbaar vir die diens.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters