2 maande gelede
Cele waarsku halsstarriges
Maak só ... Bheki Cele verduidelik aan veiligheidsmag-lede hoe om op te tree.  ~ Peter Abrahams

“AS DIE mense nie wil luister nie, sal ons hulle ’n ligte nudge gee.”

Met dié woorde het die minister van polisie, Bheki Cele, Saterdagmiddag in ’n briefing in Belhar mense gewaarsku wat die lockdown-maatreëls oortree.

Cele het ook gesê: “Soos jy rogue­ cops kry, so kry jy rogue-joernaliste”. Hy het verwys na video’s wat gemaak word van cops of soldate wat inwoners skop en slaan.

Son het egter ’n video gemaak (wat beslis nié fake is nie) van soldate wat mense nie eens die kans gee om na hulle huise te gaan nie en hulle sommer net begin aanrand. Dit het viral gegaan.

Soldate en cops help in die lockdown ná die uitbreek van die corona-virus en moet sorg dat inwoners tuis bly om te keer dat die virus versprei.

“Baie van die video’s wat uitkom, is oud. Video’s sal ons nie beïnvloed nie. Voordat video’s die wêreld ingestuur word, moet ’n mens eers seker maak dis eg en nie oud nie.

“ ’n Video van my het ook kop uitgesteek waar ek dans, maar dis al twee jaar oud. Ons lede is nie daar om mense te skop en te donner nie. Maar as mense nie luister nie, sal ons hulle ’n ligte nudge gee as hulle nie saamwerk nie.

“Die president het laas week gesê dit is nie ’n tyd vir skop en donner nie.”

Cele het klem daarop gelê dat die polisie daar is om die landsburgers te beskerm. Hy het gesê in die Wes-Kaap is teen Saterdag reeds 255 mense gearresteer wat die wette oortree het.

Hy het Suid-Afrikaners gewaarsku daar is geen entstof teen die virus nie en gevra om die basiese dinge te doen soos hande was en om in hulle huise te bly.

“Bly weg van ander mense en moenie iemand soen nie. Niémand nie.”

Permitte

Cele het gesê hulle sukkel veral by supermarkte waar baie mense saamdrom.

“Mense staan steeds in lang rye. Dit skep ’n probleem. Ons kyk ook of supermark-eienaars pryse fix en ons het al opgetree teen van die eienaars.”

Hy het ook gewaarsku dat mense wat begrafnisse bywoon, nie almal permitte sal kry om te gaan nie.

“Net die mense wat die kiste dra, kan gaan.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters