3 maande gelede
Cele se aksies op strand pla
TE VEEL MAG? Die minister van polisie, Bheki Cele (links), en die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole skuur in 2018 skouers.  ~ Theo Jeptha

BHEKI Cele, die minister van polisie, moet ophou “cops en surfers” speel.

Mense meen terwyl hy die tweede golf op die strande uitry, is daar regte misdaad – en mense wat in vrees in hul gemeenskap leef.

Só sê Andrew Whitfield, die DA-skaduminister van po­lisie, nadat Cele dié week bekend gemaak het hy het die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) gevra om strande in die Suid-Kaap saam met die SAPD te patrolleer.

Cele het Dinsdag in die Weskus en Woensdag in die Tuinroete ’n draai gaan maak.

Whitfield meen Cele kan sy hulpbronne beter bestuur deur hulp van die army te vra om misdaad te bekamp eerder as om net strande te bewaak.

“Dis ’n welbekende feit dat Suid-Afrika onder ’n hoë misdaadsyfer steier,” verduidelik Whitfield.

“Verkragting, geslags­gebaseerde geweld, moord, plaasaanvalle en bende­geweld is basies buite beheer.

“Onskuldige mans, vroue en kinders op die Kaapse Vlakte wat elke dag in die bendes se kruisvuur vasgevang is, haal daagliks die koerante.

Ontplooiing

“Dis onder hierdie omstandighede dat Cele verkies om surfers op die beach en drawwers op die promenade te prioritiseer.

“Die DA het jare gevra vir die ontplooiing van die weermag in die bende­geteisterde gebiede op die Kaapse Vlakte.

“Dit het egter altyd op dowe ore geval en dis ’n verdere bewys van Cele se skewe prioriteite.”

Whitfield meen vrae moet ook gestel word oor die nasionale polisiekommissaris, wat alle mag aan Cele oorgegee het om die polisie se operasionele kant te bestuur.

Hy voeg by dis duidelik dat die polisie wel die nodige hulpbronne het om “petty crimes­” soos surfers op die strande vas te vat.

“Aangesien die SAPD se begroting byna twee keer meer as dié van die SANW is en die feit dat die polisie uit sowat 187 000 lede bestaan, is dit mos ’n bewys,” vaar Whitfield uit.

Hy voeg by: “Dit is in vergelyking met die army se 70 000 lede.”

Volgens hom raak dit nou duideliker die land se sekuriteitspersoneel word misbruik vir die ANC se agenda, want hy wil die inwoners beheer om oor hulle te regeer.

“Die DA sal voortgaan om te veg vir ’n eerlike polisiediens wat daarna streef en daarop toegespits is om ons gemeenskappe veilig te hou,” sê die skaduminister.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters