3 maande gelede
Cele besoek Weskus-strande
bheki cele,elandsbaai
Die minister van polisie, Bheki Cele, met sy besoek aan Elandsbaai. Foto: Verskaf  ~ 

DIE minister van polisie, Bheki Cele, het Dinsdag sy lyf in die Weskus gaan wys.

Die besoek was egter nie ’n sosiale een nie, maar om seker te maak dat inwoners die Covid-19 regulasies na kom. 

Die Weskusdorpies het die naweek onder die soeklig gekom toe daar bevind is dat van die inwoners steeds die strande besoek, al word dit nie onder Vlak 3 van die nasionale inperking toegelaat nie.

Owerhede van die plaaslike munisipaliteite het ook die uitdaging gehad om vakansiegangers by kampterreine laat verwyder.

Cele se eerste stop was by die Vredendal-polisiekantoor in Matzikama, waar hy alleen met beamptes vergader het. Hy het later aan die media gesê sy besoek was om seker te maak dat almal die regulasies moet nakom. 

“Wat ek verneem het, is dat mense steeds na strande toe gaan en dat dit private strande is. Onder vlak 3 is dit teen die wet om ’n strand te besoek, of dit nou joune is of nie.”

Cele en sy gevolg is na die vinnige besoek in Vredendal na Lambertsbaai in die Cederberg-munisipaliteit. 

Die munisipaliteit het die naweek besoekers en vakansiegangers gevra om die oorde in Lambertsbaai en Elandsbaai te ontruim om ’n superspreader te vermy omdat hulle net ses beddens vir Covid-pasiënte het. 

Cele het ook Elandsbaai en Langebaan besoek. In Elandsbaai was die strand verlate. Nuuskierige inwoners het nader gestaan toe Cele van die strandgebied in Elandsbaai af kom. Cele het aan hulle verduidelik dat die Wes-Kaap op sy eie ’n hotspot is, en dat die kleiner dorpies op die Weskus se syfers daartoe dra. 

Lutzville se inwoners het tevergeefs gewag dat Cele op die dorpie ’n draai moet maak. 

“Ons het al Maandagaand gehoor hy kom. Ons het vroeg gewas en ons reggekry vir hom. Van die grootmense het hul vra op ’n blaai neergeskryf. Nou hoor ons hy het net die strande besoek,” vertel een inwoner.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters