11 dae gelede
Brokers raak stil vir 21 dae
TRADISIE: Die corona-virus tref ook Boeta Achmat Davids (links) en Ganief Miller se trade en veral ouer customers gaan suffer.  ~ Tracy-Lynn Ruiters

“AARTAPPELS! Ywwe! Tamatie!”

Vir die eerste keer gaan die stemme van brokers op die Kaapse Vlakte stil raak ...

Die smouse van die Vlakte en ander plekke sal nie gedurende die 21 dae van nasionale lockdown hulle vrugte en groente vanuit hulle vol gelaaide bakkies mag verkoop nie.

Dis juis dié mense wat gemeenskappe help om deur die maand te kom.

Gewerk

Vir hulle is die lockdown ’n geweldige gatslag vir hulle besighede en persoonlike lewe, asook die verbreking van ’n jare lange tradisie.

Boeta Achmat Davids (74) sê hy het langer as 20 jaar in sy gemeenskap in Rocklands, Mitchells Plain, gewerk.

Davids sê dis nou die eerste keer dat hy sy bakkie in sy garage sal park en in die huis moet bly.

Die boeta het daagliks in sy stampvol Nissan Champ-bakkie saam met sy vriend en helper Ganief Miller deur die strate gery om vrugte en groente aan hulle gemeenskap te verskaf.

Gister het hulle hulle gereed gemaak om die laaste keer hulle rondes te maak voordat die lockdown begin.

Davids sê hy is sad daaroor dat hulle diens nie as ’n noodsaaklike een beskou word nie.

Hy sê: “Ons verskaf kos, maar ons is nie geregistreer nie. Ons volg net ons jare lange tradisie vir die liefde van ons mense en gemeenskappe.”

Davids sê die hele lockdown het ’n domino-effek op sy besigheid, maar hy worry meer oor sy customers.

Hy sê: “As ons nie al ons goed verkoop nie, sal dit pap raak.

Bekommerd

Dit beteken dat ons groot skade sal ly. Dit beteken ook dat ons swaar gaan kry in ons persoonlike lewe. Maar ek is meer bekommerd oor die mense wat gestrem is, wat op ons staat gemaak het wanneer hulle nie geld het nie.

“Hulle sal nou moet ekstra betaal om tot by die plek te kom waar hulle goed moet koop.”

Een van Davids se customers, Dennis Swanepoel (79) sê al weet hy dit gaan dié maand baie swaar wees vir hulle ouer mense, aanvaar hy dit gedweë met ’n swaar hart.

Swanepoel sê: “Boeta Achmat se vars goed is bekostigbaar en hy is baie behulpsaam, veral as ons nie geld het nie.

“Hy het ons uitgehelp op die boekietjie totdat ons oukei is om hom te betaal.

“Daar is baie soos hy in die gemeenskap wat dieselfde gedoen het en hulle gaan verloor.”

Davids sê egter hy verstaan die president se besluit om die land in lockdown te plaas.

“Dis die reëls en ons sal daarby hou,” sê hy.

“Dis vir ons eie veiligheid en om seker te maak niemand raak meer siek nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters