10 dae gelede
’Blikkop’ bring erge frustrasie
VIES: Nozel Sampson wil ook graag aansoek doen vir ’n relief grant van R350.  ~ Bohemia Jumatt

TOE pres. Cyril Rama­phosa bekend maak die regering gaan relief grants van R350 uitdeel, het miljoene werklose Suid-Afrikaners in die lug gespring.

Maar nou sukkel baie van hulle om aansoek te doen vir dié grant wat die lewe vir hulle effens makliker kan maak.

Nozel Sampson (55) van Kraaifontein het glad met ’n robot te doen gehad toe sy vir die grant van R350 wou aansoek doen.

Sampson het aan Son vertel sy het die WhatsApp-nommer waarheen jy jou aansoek stuur op die radio gehoor.

Sy het nou al keer op keer probeer aansoek doen, maar elke keer kry sy terugvoer van ’n simpel robot wat haar glad nie verstaan nie.

Sampson vertel: “Jy moet jou naam, van en ID-nommer aan die WhatsApp-nommer stuur.

“Toe ek dit doen, toe sê die robot hy verstaan nie lang boodskappe nie en ek moet korter boodskappe stuur.”

Selfs toe sy ’n korter boodskap stuur, kon die robot haar steeds nie verstaan nie.

“Ek het toe aangehou om boodskappe te stuur.

“Die robot stuur my toe ’n boodskap oor hoe en waar ek vir screen­ings en -toetse vir Covid-19 kan gaan,” vertel sy.

“Ek is op die storie van die R350 uit, maar hy stuur vir my dié goed. Hoe kan jy met ’n robot wil praat wat jou glad nie verstaan nie? Dis ’n groot kopseer!

“Die government sit vir jou geld uit, maar nou moet jy met ’n robot praat.

“Dis dan ’n blikkop wat niks verstaan nie.”

Sampson sê sy het nou alle hoop opgegee om verder aansoek te doen vir die grant.

Ingestel

“Ek weet nie of ek ál een is wat so sukkel en of daar nog mense is wat oorgekom het wat my oorgekom het nie.

“Jy kry geen positiewe terugvoer van die blikkop nie,” sê Sampson vies.

Shivan Wahab, ’n Sassa-woordvoerder, sê die grant is ingestel as deel van die regering se maatskaplike verligtingspakket tydens die corona-virus-pandemie.

Wahab verduidelik: “Die aansoekstelsel werk outomaties en aansoekers het die opsie om in te bel, ’n WhatsApp-boodskap te stuur, ’n e-pos te stuur of ’n USSD-nommer van hul foon te skakel.”

Wahab sê om vir die grant in aanmerking te kom, moet jy bo 18 wees, werkloos, nie enige social grant ontvang nie en nie enige bystand soos pensioen, NSFAS of geld van die werkloosheidversekeringsfonds ontvang nie.

Die nommer waarna aansoeke gerig kan word, is 082 046 8553, e-posse aan srd@sassa.gov.za en Sassa se kontaksentrum kan by 0800 601 011 gebel word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters