18 dae gelede
Armes kry iets te ete
KAPTEIN! Die Bok-held Siya Kolisi sê hy is bly hy is in ’n posisie om te kan teruggee.  ~ Jonathan Lestrade

“ONS kan nie net aan onsself dink nie – ons moet help.”

Dís die boodskap van ons Bok-kaptein, Siya Kolisi, met sy humanitêre werk in gemeenskappe in die lockdown-tyd.

“Dit maak seer om te sien hoe mense sukkel. Ek was in Limpopo en mense het gevra vir water in plaas van kos.

“Dit het my laat besef daar is soveel meer wat ons kan doen,” sê Kolisi.

Hy was gister saam met die Be the Difference Foundation in die Scottsville-gemeenskap, waar kos, brood, melk en pakkies met self-care-produkte uitgedeel is.

Die rugby-liefling Cheslin Kolbe was ook lid van die groep.

“Sonder die gemeenskap sou ek nie hier gewees het nie. Dis waarom dit so belangrik is dat ons wat wéét wat dit is om te sukkel nie vergeet nie en mense help,” verduidelik hy.

Kolisi is ook terug na sy geboortedorp om te gaan goed doen.

Koppie

“Dit was baie emosioneel vir my toe ek na die vroue luister. Ek kan onthou toe ek daar rondgestap het met ’n koppie en gevra het vir rys of mieliemeel sodat Ouma vir ons iets kon maak om te eet,” sê Kolisi.

“Ons moet aan al die mense dink wat hulle werk verloor het. As jy iets kan doen, klein of groot, maak dit ’n verskil aan dié wat sukkel,” sê hy.

Hy voeg by dat ander maniere ook uitgedink moet word om mense te leer hoe om hulself te help.

“Ons kan nie aanhou net kos uitdeel nie. Ons moet dink hoe ons mense kan self-empower sodat hulle vir hulself kan sorg.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters