Verlede maand
'Almal moet drankmisbruik help bekamp'
drankmisbruik
Foto ter illustrasie  ~ 

TOE Suid-Afrika verlede week na vlak-2 van die lockdown beweeg en meer sektore aktief begin raak het om die ekonomie te herbou, het talle dit gesien as die land wat vordering maak in die geveg teen die corona-virus.

Pres. Cyril Ramaphosa het met sy aankondiging Suid-Afrikaners ook daaraan herinner dat almal steeds waaksaam en verantwoordelik moet wees.

Phumla Williams, 'n regeringswoordvoerder, sê: "Die positiewe vordering wat die land gemaak het met die verspreiding van Covid-19 word nou tragies gedemp met die misbruik van alkohol, roekeloosheid en aantal motorongelukke en sterftes op die land se paaie.

"Die aantal onlangse noodlottige ongelukke na die heropening van drankverkope is veral kommerwekkend." 

Sy noem dat dit onaanvaarbaar is dat drie beamptes van die Tshwane-metropolisie onder diegene is wat in alkoholverwante voertuigongelukke die afgelope naweek in Gauteng gesterf het.

"Hoewel Suid-Afrikaners baie verantwoordelik is met die gebruik van alkohol, kan die regering en die samelewing nie net sit en toe kyk hoe lewens weens alkoholmisbruik vernietig word nie.

"Ons het ook opgemerk hoe sommige mense net nie vlak-2 lockdown-regulasies gehoorsaam nie. Dit sluit in die beperking op gatherings en as regering doen ons 'n beroep op wetstoepassers om hul rol te speel en skuldiges vas te trek." 

Williams sê in die middel van 'n pandemie is dit onaanvaarbaar dat gesondheidsorgwerkers in hospitale nou groot aantal alkohol-verwante gevalle in trauma-eenhede moet hanteer.

"Hoewel die regering daartoe verbind is om sosiale kwessies soos alkoholmisbruik en die bloedbad op die land se paaie aan te spreek, is dit uiteindelik ook maar almal se verantwoordelikheid." 

Die regering doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om alkohol verantwoordelik te gebruik. 'n Beroep word ook op die drankbedryf gedoen om die huidige pogings om drankmisbruik te bekamp, met die regering te versterk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters