10 dae gelede
13 dood by Kiks-hospitaal
die manne: Zweli Mkhize en Alan Winde het onlangs die hospitaal geopen. Foto’s: Melinda Stuurman  ~ 

DIE Hospitaal van Hoop in die Kaapse middestad raak nou die hospitaal van wanhoop.

Die tydelike hospitaal in die CTICC in die Kaapse middestad is vroeër vandeesmaand deur die nasionale minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, geopen.

Die doel van dié veldhospitaal was om Covid-19-pa­siënte toe te laat wat “verby die ergste toestand is”.

Daarom het dit as ’n groot skok gekom dat daar onlangs sterfgevalle daar plaasgevind het.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en provinsiale ministers, sowel as ’n mediese kenner, dr. Saadiq Kariem, het Donderdag ’n update gegee oor die toestand van die huidige geveg teen Covid-19 in die provinsie.

Kariem bevestig daar is tot dusver 13 sterfgevalle in die Kaap se Hospitaal van Hoop.

Hy voeg by: “Van die pasiënte se toestand vererger dikwels.

“Daarom moet ons vir hulle sorg in terme van ons protokolle.

“Hul moet daaglik gemonitor word, in terme van die Covid-19-siekte, sowel as enige ander chroniese siekte wat hulle dalk het.

“Hul toestand kan dikwels vererger. Daarom het ons al 13 sterfgevalle by die ICC.”

Kariem bevestig verder daar is sover 2 974 gesondheidswerkers in die provinsie met die virus besmet en 27 is daaraan dood.

Winde noem verder die provinsie sal na verwagting teen die einde van die maand of die begin van Julie sy peak bereik.

“Dit kan moontlik meer as twee of drie weke duur,” noem hy.

“Soos ons die ekonomie en skole heropen, moet ons voortgaan met social distancing en ander veiligheidsmaatreëls.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters