11 dae gelede
10 Miljoen al positief
SIEK: Teen Vrydag was daar 3 675 Covid-pasiënte in hospitale in die land van wie 571 in ICU en 236 op ventilators was.  ~ Jonathan Lestrade

TEEN gisteroggend is meer as 9,9 miljoen mense in die wêreld reeds positief getoets vir die corona-virus.

Van hulle het meer as 5 miljoen of 54% herstel en byna 500 000 of 5% van die bevestigde gevalle het weens Covid-19 gesterf.

Van die 4 miljoen aktiewe gevalle teen gisteroggend was slegs 57 000, of net meer as 1%, ernstig.

Met 2,5 miljoen het Amerika die meeste bevestigde gevalle, gevolg deur Brasilië se meer as 1,3 miljoen.

Dié twee lande het ook die meeste Covid-19 sterftes in die wêreld.

Rusland, met meer as 600 000 bevestigde gevalle, het teen gister met nóg 6 852 die meeste nuwe gevalle aangemeld.

Mexiko – wat nou meer as 208 000 gevalle en meer as 25 700 sterftes het – het teen gister met nóg 719 sy meeste sterftes aangemeld.

In Afrika is daar 5 lande met minder as 100 gevalle waarvan 4 lande minder as 50 het. Dié 4 het tans minder as 20 aktiewe gevalle.

Suid-Afrika het gister met 124 590 die meeste bevestigde gevalle op die vasteland gehad gevolg deur Egipte se 62 755, Nigerië se 23 298 en Ghana, wat net minder as 16 000 gevalle het.

Egipte het ook die meeste Covid-19-sterftes op die vasteland, gevolg deur Suid-Afrika, Algerië en Soedan.

In Suid-Afrika het die Wes-Kaap steeds die meeste toenemende bevestigde gevalle, maar Gauteng het die meeste aktiewe gevalle.

Teen Vrydag was daar 3 675 pasiënte in hospitale in Suid-Afrika van wie 571 in ICU was en 236 op ventilators.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters