2 maande gelede
Wrede pa kry lewe in mang
die gebied: Dis hier in Avianpark waar die ondenkbare plaasgevind het. Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

’N PA van Worcester wat sy eie seuntjie verkrag en doodgeslaan het, is twee lewenslange vonnisse opgelê.

Charles Witbooi (38) het op 29 Mei 2017 soos gewoonlik na sy minderjarige kinders gekyk. Die kids se ma het gewerk.

Cherelle-Nique (6), Anrique (3) en Charleston (2) is sy en Angelique Britz se kids.

Toe Angelique ná werk by die huis kom, het sy opgelet dat Charleston nie lewe getoon het nie en het met hom hospitaal toe gehaas.

Charles se storie was dat Charleston deur ’n klip getref is toe gangsters van die JCY’s en Uitbyters baklei het.

Hy is in die hospitaal dood verklaar.

Charles is gearresteer toe daar ook ou wonde op die seuntjie se lyf ontdek is.

Hy het gereeld sy gesin aangerand en het ook tereggestaan op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering en kwaadwillige saakbeskadiging.

Charles het in Mei 2017, kort voor die moord, gedreig om sy kinders met ma en al in hul huisie uit te brand. Hy hét hulle toe ook toegesluit en die plek aan die brand gesteek. Hulle het ontsnap en net hul klere is uitgebrand.

Op die noodlottige dag het hy die twee kleintjies weer aangerand.

Hy het Anrique in ’n oop vuur gestamp. Die kind het erge brandwonde opgedoen.

Hy het Charleston toe verkrag. Luidens hofdokumente is Charleston ook met ’n stomp voorwerp hard in die maag geslaan. Hy het weens dié trauma beswyk.

Charles is tot lewenslank gevonnis vir die moord op sy seuntjie.

Hy is nog ’n lewenslange vonnis opgelê vir die verkragting. Vir die klag van saakbeskadiging moet hy drie maande sit.

Vir die aanklag van ontvoering is hy twee jaar tronkstraf opgelê en vir die aanranding een jaar. Alles word samelopend uitgedien.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters