22 dae gelede
Wortel van hul kwaad
MOEDELOOS: Henry Wentzel sê die munisipaliteit se antwoord aan hom en sy gesin was ’n briefie met drie sinne wat glad nie sy boom-kopseer oplos nie.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – ’n Boom blyk belangriker as ’n gesin se lewe te wees.

Son het onlangs berig oor Henry Wentzel en sy gesin, wat in vrees lewe sedert die wortels van die boom voor hul huis onder die fondasie begin ingroei het en reeds geweldige krake in die huis se mure veroorsaak het.

Die gesinslede sê hulle is skytbang die mure kan enige tyd op hulle meegee.

Die kleinkinders word ook deesdae vermaan om tog nie op die stoep te speel nie.

Die huis is horingoud. Dit dateer uit die 1800’s.

Wentzel sê hy het al talle briewe aan die Langeberg- munisipale raad gestuur, maar was onsuksesvol in sy poging om geholpe te raak.

Wentzel het dié week, kort nadat die berig in Son verskyn het, ’n kort briefie van slegs drie sinne in sy posbus ontvang.

In die brief erken die munisipaliteit ontvangs van Wentzel se skrywe oor die boom.

Die brief lees dat die munisipaliteit bome aanplant vir skaduwee en om die omgewing te verfraai.

“Ons dra geen verantwoordelikheid vir enige beweerde skade wat aan die huis aangerig is nie,” sluit die munisipaliteit sy kort briefie af.

Die gesinslede sê hulle het nie woorde oor dié gevoellose brief nie.

Die Wentzels voel die boom word dan nou belangriker geag as hul en die kids se lewe.

Winston van Staden, die voorsitter van die ANC-tak in wyk 1, en JJ van Rooyen, ’n raadslid van die Kaapse Wynland-munisipaliteit, sê hulle gaan die gesin se stryd nou verder voer.

Van Rooyen en Van Staden sê hulle sal regsadvies oor die geval inwin.

Wentzel sê hy het ook al twee kwotasies aangevra vir die oorbou van sy huis.

Die Langeberg-munisipaliteit weier egter steeds om te reageer op Son se navrae oor die issue.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters