13 dae gelede
Woes, Worcester
ONTEVREDE: Moses Mangala, wyksraadslid, sê één cop vir elke 10 000 mense in Zweletemba is ’n joke in ’n gemeenskap soos dié.  ~ Peter Abrahams

WORCESTER. – Die township van Zweletemba hier het in die laaste paar jaar aansienlik gegroei, maar dienslewering boer agteruit.

Dís die mening van plaaslike gemeenskapsleiers in dié area wat in die middel 1950’s gestig is.

Moses Mangala, wyksraadslid, sê die Zweletemba-polisiestasie en die plaaslike Empilisweni-kliniek is maar net twee goeie voorbeelde van hoe die owerhede van hul area vergeet het.

Volgens hom was die bevolking in die township in 2011 sowat 30 000 mense.

Dit het sedertdien verdubbel.

’n Voorstel is in 2005 goedgekeur om die polisiestasie op te gradeer, maar dit het tot dusver nog nie gebeur nie, sê Mangala.

Hy vertel: “Ses polisiebeamptes is per skof aan diens en daar is net twee polisievoertuie.

“As gevolg daarvan ruk misdaad hier handuit. Bendes is buite beheer, want hulle weet die polisie vat ’n ewigheid om te reageer op crime.”

Mangala sê toe die polisiestasie in 1994 geopen is, was dit as ’n satelliet-polisiestasie.

Wag

Volgens hom staan die kliniek ook nou al die afge­lope 30 jaar en is net Maandae tot Vrydae tussen 07:00 en 16:30 oop.

Inwoners wat oor naweke mediese behandeling benodig, moet hulle wend tot die streekhospitaal Eben Dönges, wat ander omliggende gebiede ook bedien.

“Mense wat Vrydagaand daar gaan mediese hulp soek, wag soms tot die Sondag voordat hulle mediese aandag kry,” voeg hy by.

Loyiso Ndlebe, wyks­ko­miteelid, beweer selfs sommige mense van Zweletemba wat mediese hulp by die Eben Dönges-hospitaal gaan soek het, het al gesterf terwyl hulle gewag het.

Ndlebe sê verder: “Daarom staan dit onder die inwoners bestaan as ’n lykhuis. Dis nie ’n hospitaal nie.”

Boewe

Zukiswa Ngqeku, ’n inwoner van die Mandela-plakkerskamp, beskryf die diens by die Empilisweni-kliniek as “pateties”.

Ngqeku (54) sê: “As ’n bejaarde moet ek my lewe in gevaar stel as ek mediese aandag wil kry. Ek moet voor 05:00 al hier wees, want die ry raak baie lank.

“Dan moet ek my lewe sit in die hande van boewe wat ons in die vroegoggendure hier beroof.”

Leensie Lötter, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, bevestig die kliniek is net gedurende die week oop vir dienslewering.

Volgens Lötter is daar ook geen planne om die kliniek se operasionele ure óf sy kapasiteit uit te brei nie, want dienste is ná ure by die streekhospitaal beskikbaar.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters