29 dae gelede
Woedende inwoners keer saak
WREED VERMOOR: Die gemeenskap van Tulbagh is die hel in ná die moord op Reagan Gertse.  ~ Foto Verskaf

DIE eerste hofverskyning van Reagan Gertse (8) se vermeende moordenaar is tot 2 Junie uitgestel.

Dít was weens ’n woedende gemeenskap wat in groot getalle buite die Tulbagh Landdroshof vergader het.

Die beskuldigde, Jakobus Petoors (54), kon weens die gemoedere van gemeenskapslede wat hoog geloop het, nie op die klagte van ontvoering, verkragting en moord verskyn nie

Wendy Philander, lid van die Wes-Kaapse parlement, het die hofverrigtinge bygewoon.

Philander vertel: “Daar is ’n gevoel van moedeloosheid en verslaentheid onder die Tulbagh-gemeenskap.

“Dis seer om ’n familie en gemeenskap in soveel pyn te sien. Die persoon langs jou lyk ordentlik, maar kan jy dié een vertrou?”

Reagan se halfnaakte lyk is Sondagoggend tussen bosse aan die buitewyke van Tulbagh gevind.

Eerste

Hy het ’n oop wond aan die agterkant van sy nek.

Reagan se ma, Louisa Gertse, se kêrel, Ricardo Davids, en ’n vriend, Hendrik Swems, het eerste op Reagan se lyk afgekom.

Petoors is Sondagoggend gearresteer. Hy is sowat vier maande gelede op parool vrygelaat nadat hy 7 van sy 14 jaar vir die verkragting van ’n kind uitgedien het.

Toe Petoors oor Reagan se verdwyning gekonfronteer is, het hy gesweer dat hy van niks weet nie.

Philander vra: “Hoeveel hofverskynings, waar onskuldige kinders die slagoffers is, sal daar dan nou nog bygewoon moet word.?

“Hoeveel petisies sal nog geteken moet word en kerse aangesteek word? Hoeveel optogte sal nog gehou moet word?

“Die president van ons land sal iets daadwerkliks moet doen, want só kan dit nie aangaan nie. Ons kan nie meer week ná week langs oop kindergrafte staan nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters