4 maande gelede
Wewenaar op mission
BESTEEL: Mildred Phillips se besittings het glo verdwyn kort nadat sy weens Covid-19 gesterf het.  ~ Foto Verskaf

WORCESTER. – Haar lyk was skaars koud, toe word haar besittings gesteel.

Dís wat na bewering met Mildred Phillips (37) in die Worcester-hospitaal gebeur het.

Mildred, van Touwsrivier, is op 12 Januarie aan Covid-19-verwante komplikasies oorlede.

Haar man, Clive Phillips, sê hulle albei is op 9 Januarie in dié hospitaal toegelaat nadat hulle met die corona-virus besmet is.

Clive vertel hulle het in een saal gelê totdat sy vrou oorgeskuif is na die hoësorgeenheid vir Covid-19-pasiënte.

Hy sê: “Die oggend van die 12de het dr. Naidoo my skoonma gebel om te sê my vrou gaan dit nie maak nie.

“Nadat my skoonma vir hom gesê het ek is ook in die hospitaal, het hy my die middag kom sien.

“Hy het my ook meegedeel my vrou gaan dit nie maak nie.

“Ek het hom toe gevra of ek my vrou kan sien en hy het my toe self tot by haar gevat.

“Daai was die laaste dat ek haar gesien het.”

Clive sê die dokter het hom daardie aand ná 23:00 kom wakker maak om te sê sy vrou het afgesterf.

Hy vertel die dag daarna het ’n verpleegster Mildred se selfoon en charger vir hom gebring.

Maar die wewenaar beweer sy vrou se splinternuwe handsak, twee rokke, nagklere, onderklere en toiletsakkie het spoorloos verdwyn.

SKOONVELD: Clive Phillips beweer van sy vrou se besittings het hier voete gekry. Foto: Peter Abrahams

Clive sê: “Ek het haar gevra waar my vrou se goed is, waarop sy gesê het dit het saam met die begrafnisondernemer gegaan.

“Ná vele oproepe na die hospitaal hou hulle voet by stuk dat hulle die goedere aan die begrafnisonderneming uitgeboek het.

“Maar Vrydag toe bel El Shaddai se kantoor my om te sê die man wat my vrou se liggaam gaan haal het, sê hy het niks goedere van my vrou gekry nie.

“Volgens die begrafnisonderneming het die persoon wat die liggaam gaan haal het, bevestig dat hy net die liggaam gekry het.

“Daarna het ’n portier my gebel om te sê die goedere is aan die begrafnisonderneming uitgeboek.”

By navraag aan die provinsiale departement van gesondheid het Maret Lesch, ’n woordvoerder, gesê die hospitaal het nie Mildred se goed nie.

Lesch sê: “Die Worcester-hospitaal kan bevestig dat waardevolle items van die afgestorwe mev. Phillips op 13 Januarie 2021 aan haar man oorhandig is, insluitende haar selfoon, laaier en toebehore.

Verduidelik

“Die hospitaal stoor nie enige klerasie wat uit die Covid-19-sale kom nie, want dit word beskou as ’n risiko vir besmetting.

“Die Worcester-hospitaal se portier het mnr. Phillips geskakel en verduidelik dat mev. Phillips se klerasie tesame met haar liggaam na die begrafnisondernemer gegaan het.

“Die betrokke begrafnisondernemer het bevestig dat mev. Phillips se klerasie saam met haar liggaam ontvang is.”

Clive hou egter vol iemand lieg oor wat van sy oorlede vrou se klere geword het.

Hy sê hy het net haar selfoon en charger op 13 Januarie ontvang.

Clive sê hy gaan nou ’n saak van diefstal teen die hospitaal maak.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters