18 dae gelede
Werkers ‘gerob’ van hul bonus
Jeffrey Boois  ~ Foto Verskaf

GOUDA. – ’n Groep vroue is vies oor hulle nie hul pay kry nie.

Volgens die groep van nege werk hulle as seisoenwerkers op vrugteplase in die omgewing.

Hulle verduidelik: “Ons werk nie direk vir die boere self nie, maar vir ’n labour broker.”

Amelia Squere vertel: “Vanjaar was nie ’n uitsondering nie. Ons was omtrent 90 vroue wat in ’n pakstoor op die plaas gewerk het.

“Die plaasboer het vir ons gesê as ons meer as ons daaglikse verpakking doen, kan ons ’n bonus kry.”

Morné America beaam en sê: “Ons het alles ingesit vir daai ekstra geldjie.

“Toe dit kom by betaaltyd was daar geen spoor van daai ekstra geld nie.

“Ons het ’n naamlys by ons van wat elke werker moet kry.”

Bewyse

Jeffrey Boois, die kontrakteur en labour broker, ontken dat daar sprake was van ’n bonus aan die werkers.

Hy sê: “Ek het R20 352 ekstra van Anelize Potgieter ontvang.

“Sy het net vir my gesê dis ekstra vir die werk wat gedoen is.

“Sy het nooit vir my gesê dit is vir die werkers nie.

“Ek het self die geld gevat en aan die meerderheid werkers elkeen R250 gegee omdat hulle die werk gedoen het. Ek het ál die bewyse.”

Manie Potgieter, op wie se plaas die werkers gesweet het, het beaam wat die vroue gesê het.

ONTEVREDE: Morné America, Pauline Boois en Amelia Squere pak uit. Foto: George April

Manie verduidelik: “Ons het vir die werkers ’n aansporingbonus belowe en wel die geld aan die twee kontrakteurs uitbetaal.

“Die kontrakteurs is ’n lys name gegee met bedrae wat elke werker moet kry.

“In Boois se geval was die hoogste uitbetaling aan ’n werker R1 400.

“Omdat ons van kontrakteurs gebruik maak, kon ons dus nie inmeng met die uitbetalings nie.

“Ons het egter reeds alles in plek om volgende keer self die werkers te betaal.”

Stemmer Fortuin, die tweede kontrakteur, bevestig wat Potgieter vertel het.

Fortuin sê: “Kyk, ek het my lys name gebruik en vir elke werker haar geld gegee. Almal wat vir my gewerk het, is gelukkig.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters