2 jaar gelede
Vullisprojek gestaak
tevrede: Die burgemeester Conrad Poole verwelkom die besluit om die vullisprojek stop te sit. Foto: netwerk24  ~ 

DIE Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) soek ’n volledige ondersoek na ’n projek van die Drakenstein­munisipaliteit om vullis in energie te omskep.

Die council het dié moontlikheid die afge­lope dekade ondersoek, maar inwoners het dit verwerp en die munisipaliteit het dit nou maar stopgesit.

Die munisipaliteit sou onder meer ’n verbrandingsoond vir die proses gebruik het.

Toe die projek destyds van stapel gestuur is, was die munisipaliteit nog onder die ANC se beheer.

Die huidige uitvoerende burgemeester, Conrad Poole van die DA, sê die council kan nou weer “vars” begin met die proses.

Die SAKP, ’n alliansie­vennoot van die ANC, meen die tenderproses en uitgawes wat die afgelope dekade aangegaan is, moet eers onder die vergrootglas geplaas word.

Mncedisi No­bala, die SAKP­sekretaris in die Eliza­beth Nana Abrahams-tak in Wellington, sê die party sal voortgaan met sy stryd teen korrupte beamptes.

Volgens Nobala moes die projek lankal gestaak gewees het, maar dis nie gedoen nie omdat sekere individue persoonlik finansieel daaruit voordeel getrek het.

Hy sê: “Die tender is ge­adverteer en het verval. Plaas daarvan dat dit weer ge­adverteer is, het die munisipaliteit voortgegaan en ’n kontrakteur aangestel.

“Dit was ten spyte van die nasionale departement van finansies en die Wes-Kaapse regering se aanbevelings dat die tender van voor af geadverteer moet word.

“Alle uitgawes met betrekking tot die projek en diegene wat daarby baat gevind het, moet openbaar gemaak word.”

Die gemeenskapsorganisasie Wellington Associa­tion against the Incinerator het met die hulp van die SAKP en die ANC-koukus die inwerkingstelling van die projek beveg.

“Dit is ’n oorwinning vir die mense, want dit sou negatiewe maatskaplike en ekonomiese gevolge gehad het,” reken Nobala.

Poole sê die inwoners se bekommernisse het direk gelei tot die raad se besluit verlede Donderdag om die projek te stop.

Hy sê verder: “Dit bevry ons ook van ’n projek wat die vorige (ANC-)administrasie in 2008 begin het.

“Dit gee die Drakenstein-munisipaliteit verder die geleentheid om ’n vars benadering te volg en met ’n nuwe proses te begin.

“Dit sal vir ons gemeenskap die beste en mees omgewingsvriendelike oplossing verseker vir die bestuur van afval.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters