Verlede maand
‘Vul die pos met een van buite’
ongeduldig: Maak daai aanstelling vinnig, eis die skoolma Elvita Britz. Foto’s: Basil Davids  ~ 

ROBERTSON. – Keelvol skoolouers soek ’n skoolhoof van buite die dorp.

Donderdag het ’n handjievol ontevredenes voor Vergesig Primêr gekla die skool is al jare sonder ’n hoof.

Volgens die ouers is hulle in dié tydperk nooit ingelig wat die verwikkelinge by die skool is nie.

“Ons is regtig keelvol en wil weet presies wat hier aangaan oor ons nou boggherol weet,” het een ouer uitgevaar.

Redeneer

Volgens die ouers was daar in 2015 laas ’n skoolhoof.

Daarna is daar net elke keer iemand plaaslik aangestel om waar te neem.

Ouers redeneer die tydelike aanstellings maak dinge by die skool onstabiel.

“Elke keer kom ’n ander waarnemende hoof met ander idees. Dan veroorsaak dit chaos­ onder die onnies en leerders.”

Die ouers dring daarop aan dat ’n prinsipaal van buite die dorp die pos vul. Hulle dink só iemand sal die leisels beter kan vasvat.

Wendoline Snyman, wat twee kinders in die skool het, sê: “Ons is oningelig oor wat by die skool aangaan.”

Snyman verneem ’n nuwe hoof gaan binnekort aangestel word, maar die ouers weet niks daarvan nie.

’n Ander ouer, Elvita Britz, stem saam dat iemand van buite die dorp in die pos aangestel word.

Tania Marcus sê as iemand wat reeds by die skool betrokke is die pos kry, gaan hulle as ouers in opstand kom.

Nico Solomon, ’n kring­bestuurder, sê die aanstellingsproses moet nog begin.

Solomon het gesê daar is tans geen sprake van die aanstelling van ’n prinsipaal nie.

Millicent Merton, ’n woordvoerder van die departement van onderwys, het gesê die proses om ’n prinsipaal aan te stel, is nog onafgehandel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters