18 dae gelede
Vroulief weg
Hierso: Dirk Mouries (50) wys waar sy vrou en die bakkie onder die water verdwyn het. Hy is nou ’n wewenaar. Foto’s: BASIL DAVIDS  ~ 

ASHTON. – Die wel­kome reën het omgesit in vloede en toe gelei tot ’n tragedie.

Inwoners is in rou gedompel nadat ’n sterk rivierstroom ’n plaasbakkie meegesleur en ’n vrou onder die water ingetrek het.

Woensdag omstreeks 17:00 het ’n boer op die spogplaas Van Loveren met 20 werkers agterop sy Ford Ranger deur die rivier gery.

Die sterk stroom het die bakkie omgegooi en almal agterop meegesleur.

Die meeste mense het aan mekaar en aan bome vasgehou, maar Sonia Mouries (48) het onder die water verdwyn.

Die drama sou ’n mens kon herinner aan ’n toneel uit die movie Titanic, waar mense ook so vir lewe en dood moes vasklou.

Die werkers wat agterop die bakkie gesit het, was gister nog baie geskok. Hulle het aan Son gesê hulle het al gesien hoe die dood hulle óók kom haal.

Sonia se man, Dirk Mouries (50), sê sy vrou het saam met die ander werkers agterop die bakkie gesit.

Volgens hom het Sonia sy onder die water verdwyn en dit was dit.

Wat hom snags wakker hou, is dat hy net magteloos kon toekyk toe die stroom haar wegvat.

Dirk was gister self nog bewerig van die skok en verlies.

Hy vertel: “Ons het die middag uitgeval en ons almal het agterop die bakkie geklim.”

Hy sê die plaasboer het soos gewoonlik deur die rivier terug dorp toe gery.

In daardie stadium het die rivier baie sterk afgekom, vertel Dirk.

“Ons almal het geskree dat hy op die laagwaterbruggie moet reguit hou, maar hy het nie.”

Skielik het die bakkie na die een kant toe begin oorkantel. Daarna het dit in die stroom omgeslaan.

Die plaaswerkers het begin panic. Hulle het van die bakkie afgeval en was uitge­lewer aan die water se krag.

“Ek het self probeer om aan iets vas te hou. Ek wou ook my vrou red. Sy het geskree ek moet haar help, maar haar kop het toe onder die water verdwyn,” herleef Dirk sy hartseer.

Vashaak

Shiela Mashe, nog ’n plaaswerker, sê sy het ook al gesien hoe haar lewe voor haar afspeel.

“Ek het net begin bid en toe voel ek hoe my bene aan gras onder die water vashaak.

“Ek kon toe teen die wal uitklouter,” onthou sy – duidelik ook nog geskok.

Volgens Mashe is die res van die mense baie gelukkig dat hulle uit dié lewensgevaarlike situasie kon kom.

Sy reken as dit daai tyd al donker was, sou dit heel anders gewees het.

Van die werkers het gister by die rivier gaan kyk hoe die polisieduikers na Sonia se lyk soek.

’n Werker wat verkies om anoniem te bly, meen die driver moes geweet het hy moenie met hulle agterop deur so ’n sterk stroom ry nie.

“Ons het almal geskreeu, maar hy het net aangery,” het die werker gesê.

AO Sylvester Joseph, ’n polisiewoordvoerder, het gesê sodra die boer aangekla word, sal ’n saak van strafbare manslag teen hom aanhangig gemaak word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters