Verlede maand
Vrouecop se vên rol 4 keer
DANKBAAR: Konst. Anita de Bruyn vertel van haar noue ontkoming op ’n grondpad.  ~ Foto Verskaf

DARLING. – Haar lewe het hom voor haar afgespeel terwyl sy in die polisievên vasgesit het.

Anita de Bruyn (41), ’n cop, sê sy kon dood gewees het nadat sy Woensdag­oggend omstreeks 06:30 met haar polisievên in ’n ongeluk betrokke was.

De Bruyn, wat by die Hopefield-polisiestasie gestasioneer is, was daardie oggend op ’n grondpad op pad werk toe.

“’n Bakkie het voor my gery en daar was baie stof voor my,” vertel ’n steeds geskokte De Bruyn.

Volgens haar het die stofwolk voor haar so erg opgeslaan dat sy niks voor haar kon sien nie.

De Bruyn sê die volgende oomblik het sy gevoel hoe die vên oor ’n hobbel ry en toe met haar begin rol.

“Ek onthou nog duidelik dat ek vier keer gerol het,” vertel De Bruyn.

Volgens haar het die polisievoertuig op sy sy tot stilstand gekom. Agter die stofskerm was die bestuurder van die bakkie salig onbewus van die botsing agter hom.

“Ek kan onthou dat ek toe uitgepass het.

“Ek het eers later stemme by die vên gehoor.

Doodgaan

“Toe ek bykom, het ek gesien dis ’n taxi vol mense wat langs die vên gestop het.

“Ek was vreesbevange en ek het regtig gedink dat dit die einde is en dat ek nou doodgaan.

“Ek kon nie myself help nie en kon ook nie beweeg nie,” vertel De Bruyn.

Volgens De Bruyn het van die manne op die toneel die vên weer op sy wiele gestoot en toe die deur oopgemaak om haar te bevry.

“Ek kon die mense nie genoeg bedank nie. Hulle het my lewe gered,” sê sy dankbaar.

Sy is per ambulans na die hospitaal geneem en ten spyte van die talle blou kolle op haar lyf, was daar wonderbaarlik geen breuke of ernstige beserings nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters